Standertonners pronk in Proteaspan
STANDERTON – Francois Scheepers en Louis Fourie, lede van Standerton- en Distrikhengelklub, het albei onlangs die nuus ontvang dat hulle gekies is om die Proteaspan van 2014 te verteenwoordig – Francois as aktiewe lid van die span en Louis as deel van die o-19-juniorspan se bestuur.
Die proewe vir die Protea-span is in Mei gehou waartydens die hengelaars dubbele Presidentspan-kleure moes verwerf om vir die span te kwalifiseer. Francois het sy Presidentkleure drie keer verwerf en is gevolglik in die Proteaspan opgeneem. Wat die keuring vir die juniorspan betref, moes Louis ‘n onderhoud bywoon sodat hy vir die bestuur van hierdie span kon kwalifiseer.
Francois het reeds as deel van die Protea-hengelspan aan die Sone 6 Internasionale Toetskampioenskap in Namibië tussen 27 en 29 Augustus deelgeneem. Hy het skoonskip in al sy toetse gemaak en ook die grootste karp van die kompetisie ingekatrol – ‘n allemintige 4,41 kg! Die juniorspan het ook aan hierdie kompetisie deelgeneem en gemengde uitslae behaal.
Standerton- en Distrikhengelklub is baie trots op hierdie twee gesoute hengelaars! DK