SHS pronk by Interhoër

Hoërskool Standerton se fikse atletiekspan het weer eens die bul by die horings gepak tydens die jaarlikse Interhoërbyeenkoms wat die afgelope naweek in Secunda gehou is. Die skool het die algehele derdeplek verower en is met 66 medaljes huis toe. Hier is Donovan Uys, ‘n o-15-atleet, in aksie tydens die 400 m-hekkies waarvoor hy die gouemedalje verdien het.
STANDERTON – Agt topskole in die Oostelike Hoëveld het Saterdag, 21 Februarie, swaarde tydens die jaarlikse Interhoër-atletiekbyeenkoms gekruis en vir hoendervleis-atletiek gesorg wat die toeskouers op die punte van hul stoele gelaat het.
Hoërskool Standerton se gedugte atletiekspan was natuurlik weer onder die top drie skole op die ranglys en het hul teenstanders – Hoërskool Secunda, Hoërskool Generaal Hertzog, Ligbron Akademie vir Tegnologie, Hoërskool Piet Retief, Hoërskool Ermelo, Hoërskool Hoogenhout en Hoërskool Volksrust – ‘n ding of twee op die atletiekbaan met een nuwe rekord en ‘n verstommende 66 medaljes gewys.
Hierdie prestige-byeenkoms is vanjaar deur Hoërskool Secunda by die Secunda Stadion aangebied en het gesien dat Hoërskool Standerton die algehele derdeplek op die ranglys met ‘n totaal van 491 punte verower het. Hoërskool Secunda is eerste met 563 punte, gevolg deur Hoërskool Ermelo in die tweedeplek met 511 punte – net 20 meer as Hoërskool Standerton.
Wat die individuele uitslae betref, het ses van die skool se atlete uitnemende prestasies behaal. Danél du Plessis, ‘n o-19-atleet, het gouemedaljes in hoogspring en die 400 en 80 m-wedlope ingepalm. Sy het ‘n silwermedalje vir haar vertoning in die 400 m-hekkies verdien en is met die trofee vir die beste langafstandatleet (seniormeisies) beloon.
Karissa van Wyk (o-14) het op haar beurt ‘n gouemedalje vir verspring, silwermedaljes vir 90 en 300 m-hekkies én ‘n bronsmedalje vir die 100 m-wedloop ingeoes. Donovan Uys (o-15) het ‘n gouemedalje vir 100 m-hekkies en silwermedaljes vir die 100 en 200 m-wedlope behaal, terwyl Leandri van der Merwe (o-19) met gouemedaljes vir die 1 500 en 3 000 m-wedlope spog.
Christiaan Janse van Rensburg, ‘n o-17-atleet, het goud en silwer in die 400 m-wedloop en 400 m-hekkies losgehardloop, terwyl Cindy Hess (o-16) die gewigstootrekord gebreek het en dus met ‘n gouemedalje vir hierdie item huis toe is.
Hoërskool Standerton se sanggroep het geensins teleurgestel om die atlete uit volle bors aan te moedig nie en is aan die einde van die dag met die algehele derdeplek huis toe. Die dirigente het hul poste ook met vernuf volgestaan en is met die trofee vir die algehele tweedeplek vir hul toewyding beloon.
DK





