Sasol Secunda se Gold Cup-pad eindig
Die Sasol Secunda Grip & Rip Rugbyklub se Community Gold Cup-pad het Saterdag in ’n doodloop op Setaria, Thabazimbi, geëindig.
Die Northam Rhinos het op hul tuisveld oor Secunda geloop en die wedstryd, die tweede in reeks, oortuigend met 69–8 gewen.
Sasol het die puntebord geopen met ’n strafdoel.
Dit was egter van die staanspoor duidelik dat Secunda se ritme uit is en die kenmerkende Sasol-masjien het net nie in rat geval nie.
Die Rhinos het op Sasol se doellyn baljaar en die drieë laat inrol. Die rustydtelling was 21–3 in Northam Rhinos se guns.
Die Rhinos het die puntestand vergroot in die tweede helfte en het reeds met 40 voorgeloop toe Sasol se Ruan Groenewald ’n drie gedruk het.
Die wedstryd het ook verskeie beserings besorg. In die Rhinos se kamp is Dylan Weideman ernstig beseer en per ambulans van die veld afgeneem.
Sasol se spelers, wat vir Weideman gebid terwyl die wedstryd onderbreek is, is agterna geloof vir hul sportmanskap en etiek.
Read the full article on: Ridge Times