Nico is Afrika stoeikampioen

Nico van den Berg is na afloop van die Afrika stoeikampioenskap wat in Kairo aangebied is, aangewys as die Afrika stoeikampioen in sy afdeling. Hy het as driejarige begin om dié sport te beoefen, en nou, veertien jaar later kon hy breëbors die nommer een plek op die podium inneem.
SECUNDA – Nico van den Berg het op Donderdag, 28 Mei, aan die Afrika kadetstoeikampioenskap in Kairo, Egipte, deelgeneem en die 46-60 kg-afdeling gewen. Hy het al sy wedstryde met valle gewen en is met ‘n goue medalje beloon.
Hy is as die Afrika stoeikampioen in sy afdeling aangewys.
Nico is die enigste stoeier in die Suid-Afrikaanse mans-kadetstoeispan wat ‘n gouemedalje los gestoei het. Hy het ook opgetree as kaptein van die Suid-Afrikaanse mans- en vrouekadetstoeispanne.
Die Suid-Afrikaanse kadetstoeispan het algeheel tweede geëindig in die Afrika kadetstoeikampioenskap. Nico gee alle eer aan die Hemelse Vader wat hom die krag en talent gegee het om sy sport te kan beoefen en te kan presteer. Hy stoei vandat hy drie jaar oud is, in totaal veertien jaar, en sy afrigter Johan van den Berg sê dat hulle voorwaar trots is op Nico se prestasie. JD