Liggie-eerstes word (alweer) M’langa-wenners!
ERMELO – Ligbron Akademie vir Tegnologie se eerste-krieketspan het die krieketseisoen die afgelope naweek op ‘n hoogtepunt afgesluit toe hulle met die wenbeker van die Mpumalanga-liga bekroon is.
Die span het Saterdagoggend, 25 Oktober, teen Lowveld High School van Nelspruit in die finaal van dié liga op hul tuisveld in Ermelo te staan gekom. Dinge het reeds van die eerste oomblikke van die stryd in die Liggies se guns gedraai toe hulle die loot gewen het en die manne van Lowveld High School ingestuur het om eerste te kolf.
Die laevelders het die bul by die horings gepak, maar is vinnig in die 37ste boulbeurt vir 130 lopies uitgeboul. Rohan Malan was een van Ligbron se beste boulers en het drie paaltjies vir ses lopies in agt boulbeurte geneem. Cameron van Kooten en JF Kriek het ook hul staal gewys en drie paaltjies vir 40 lopies in 10 beurte en twee paaltjies vir 36 lopies in sewe beurte, onderskeidelik, geneem.
Die Liggies het daarna die kolf opgeneem en slegs een paaltjie met net ‘n driekwartuur speeltyd oor voor middagete verloor. Ná middagete het Berno van Niekerk 22 lopies aangeteken voordat hy uitgeboul is, waarna JP Labuschagne vir 23 lopies uitgehardloop is. Carl Jacobsz het volgende gekolf en 36 lopies (nie-uit-nie) aangeteken.
Die Ermeloërs het hul vernuf verder ten toon gestel en Lowveld High School se telling in die 39ste boulbeurt verbygesteek en só die kragmeting met ses paaltjies gewen. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die eerstespan van Ligbron Akademie vir Tegnologie as die wenners van die Mpumalanga-liga uit die stryd tree. Dit getuig definitief van goeie afrigting en deursettingsvermoë van die fikse spelers.
Wat Ligbron se ander spanne betref, is die skool trots om te kan sê dat die tweedespan die Gert Sibande-streekwenners van 2014 is. Die o-14’s, o-15’s en meisiespan het almal tweede in hul onderskeie liga’s geëindig, terwyl die derdespan die derdeplek in die tweedespanliga opgeraap het.
DK