Kolwe swaai in oorwinning…

Laerskool Standerton se krieketspanne het verlede week vir goud gegaan toe hulle teen verskeie skole in die jaarlikse Goldi-krieketweek te staan gekom het. Die skool se o-13-span het met drie paaltjies koning in die finaal teen Ladybrand Primêre Skool gekraai, terwyl die o-11’s as naaswenners uit die stryd getree het. Bo is Jacolien du Preez, ‘n o-11-speler van Laerskool Standerton, wat die trofee vir die beste veldwerker rég onder die seuns se neuse opgeraap het. Regs bo, is die ‘n o-13-spelers in aksie.
STANDERTON – Die jaarlikse Goldi-krieketweek het verlede week by Laerskool Standerton afgeskop en die topspelers van verskillende skole in die omgewing vir naelbyt-aksie bymekaargebring. Soos altyd, het die week goeie vrugte vir die Stannies afgewerp, aangesien ‘n hele paar van die skool se spelers met spesiale toekennings vir hul vernuf beloon is.
Jayden Breytenbach is tydens die prestige prysuitdelingsfunksie met die trofee vir die beste o-10-kolwer van die week beloon, terwyl Phillip Cronjé met die trofee vir die beste o-13-bouler huis toe is. Die roos tussen die dorings, Jacolien du Preez, het die trofee vir die beste o-11-veldwerker losgeslaan en met beskeie bravado bewys dat sy ‘n krag is om mee rekening te hou.
Die kersie op die koek was egter toe Laerskool Standerton se o-13-spannetjie vir Ladybrand Primêre Skool met drie paaltjies in die finaal geklop het en heel trots met die wenbeker in dié afdeling huis toe is. Die o-11-span het ook swaarde met Ladybrand gekruis, maar is met nege paaltjies in die finaal geklop. DK