JONG SUID-AFRIKANER SKI BY DIE OLIMPIESE SPELE
Die sestienjarige Elizabeth Olivier van Barkley-Oos in die Oos-Kaap, vertrek die week na Noorweë om Suid-Afrika in die Winter Olimpiese Spele vir die jeug te gaan verteenwoordig. Elizabeth is ‘n kranige ski-kampioen en is die enigste atleet van Suid-Afrika wat aan die spele gaan deelneem. Sy vertel aan Suzanne Paxton dat as deel van haar oefenprogram sy vir maande aaneen in die berge in die Oos-Kaap bly. Die onderhoud kan op RSG Potgooi gehoor word.
Die jong dame se prestasie is uitnemend as in ag geneem word dat Suid-Afrika nie ‘n tipiese ski-land is nie. Atlete oefen by Tiffindell naby Rhodes in die Oos-Kaap, maar die hange is nie naastenby die waarmee hulle te doen kry in oorsese lande nie. Boonop is hierdie sport nie een van die top-profiel sportsoorte nie en atlete is meestal aangewese op ouers en ondersteuners om hierdie moeilike individuele sport te bemeester. ‘n Verdere komplikasie is dat daar nie altyd genoeg sneeu in Suid-Afrika val nie en so hulle oefentyd verminder.
‘n Jong ambassadeur waarop Suid-Afrika met reg trots kan wees!