Erries se hokkiespanne speel kookwater hokkie
ERMELO – Vier Errie-hokkiespanne, die 0-14A, 0-15A, 0-16A en eerstespan, het Saterdag 13 Junie by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier aan die kwart-finaal van die Mpumalanga Hokkie-liga deelgeneem.
Hierdie uitspele vind oor twee naweke plaas. Elke span speel vier wedstryde om te kwalifiseer vir die semi-finale.
Al vier van Hoërskool Ermelo se hokkiespanne het gekwalifiseer vir die kwart-finaal. Van meet af het die meisies hokkie uit die boonste rakke gespeel. Hierdie spanne het ál hulle wedstryde gewen en sien uit na die wedstryde wat volgende naweek in Volksrust plaasvind.
Die uitslae is soos volg: Die 0-14A-span wen Ligbron 6 – 0 en wen Generaal Hertzog 7 – 0. Die 0-15A’s wen Uplands 1 – 0 en wen Hoërskool Volksrust 2 – 0. Die 0-16A’s wen Hoërskool Rob Ferreira 9 – 2 en wen Hoërskool Standerton 3 – 0.
Die Eerstespan wen 3 – 1 teen Hoërskool Nelspruit en wen Curro Witbank 7 – 0.
Hoërskool Ermelo is baie trots op hierdie dogters wat uitstekende hokkie gespeel het. Baie sterkte aan die afrigters en die vier spanne vir die laaste twee wedstryde van die kwartfinaal. HvO






