Dit reën lood op skietbaan
STANDERTON – Die Evert Genis skietbaan was Saterdag, 14 Maart, in rep en roer toe 45 skuts van die SA Jagtersvereniging se Kosmos-tak daar bymekaar gekom het om aan die maandelikse kompetisie deel te neem. Tydens die skiet van die springbok-tabel teken Jaco Booysen 240 uit ‘n moontlike 270 punte aan, Stoffel Bester teken 220 punte aan en Jako Steenkamp skiet 190 uit die moontlike 270 punte los.
Later beweeg die skuts oor na die zebra-tabel en Zander Bailey wen hierdie afdeling met 260 punte uit ‘n moontlike 270. Hy word gevolg deur Jaco Booysen (250/270) en Christo Bailey (250/270). Later is die jaggewere geruil vir haelgewere en Johan Smit skiet 20 uit 20 kleiduiwe. Winston Ritchie skiet 16 kleie raak en Jako Steenkamp skiet 15 uit 20 kleie.
Daar is ook ‘n nuwe afdeling ingebring naamlik handwapen jag. Hier word ook na die Zebra teiken geskiet en skuts beweeg vanaf die 200 meter merk na die volgende nader afstand waar elke keer ‘n skoot of twee afgevuur moet word. Hier tree Christo Bailey as wenner uit die stryd, gevolg deur Jako Steenkamp en JC Schoeman.
Eerskomende Saterdag, 21 Maart, stuur die Kosmostak twee spanne na die Intertak spankompetisie wat in Heidelberg aangebied gaan word. JD