Shaney van Zyl
Hoeveel keer het jy nie al ʼn punt bereik waar jy sê: “Ek kan nie meer nie!”? Jou mening sal waarskynlik verander wanneer jy die inspirerende storie hoor van Shaney van Zyl.
Dié 36-jarige vrou het in haar leeftyd moontlik meer swaarkry beleef as wat die meeste mense in ʼn hele leeftyd verduur het – en tog straal Shaney, liefde en God se vreugde en vrede uit wanneer sy jou in haar eiesoortige humorsin oor haar lewe vertel.
Sy was gisteraand (Donderdag) die gasspreker by die ATKV se Kosmosrandtak in Secunda se sop-aand.
Shaney begin haar verhaal met die dag van haar geboorte – agter ʼn kraalmuur in die Witbank-omgewing. Sy het haar baie onwelkome opwagting as die jongste van ses kinders gemaak.
“Ek is die produk van ʼn “affair” en was verwek terwyl my alkoholis-ma se regte man in die tronk was. Eintlik was daar twee affairs en twee mans wat gedink het dat ek hul kind is,” vertel Shaney.
Haar ma het rommelmetaal vergader en het dan gereeld die baba by ʼn vrou in die township by Clewer los. Toe die tyd aangebreek het dat haar ma se man (wat nie van Shaney se bestaan geweet het nie) uit die tronk vrygelaat moes word, het die ma haar baba weer by die vrou in die township gelos, maar nooit weer kom haal nie.
Shaney het vir sowat nege maande by die vrou in die township gebly toe die vrou baie siek geword het. Sy het die baba na die CMR in Witbank geneem. “Ek het teen my tweede verjaardag al in vyf pleegsorghuise gebly. Ek het baie jare agterna gewonder hoekom wou mense my nie hê nie. Ek het nie eers ʼn babafoto om te sien of daar iets met my geskeel het nie.”
Shaney is toe uiteindelik in ʼn gevestigde huis geplaas waar sy vir ʼn hele paar jaar gewoon het. “My pleegouers was goed vir my en ek was gelukkig, maar ek het ʼn etiket gedra. Ek was verwys na “die ou kindjie wat ons aangeneem het.” Shaney het uitgeblink in stoei en het ʼn wit hondjie, Cindy gehad.
Haar hele bestaan is onder haar uitgeruk toe sy op die ouderdom van 13 skielik van haar pleegouers weggeneem is. Een van die mans met wie Shaney se ma destyds ʼn affair gehad het, het daarop aangedring dat hy haar pa is, en hy het sy kind kom opeis. Só is Shaney en Cindy na haar nuwe gesin op ʼn plaas in die Heidelberg-omgewing waar sy skielik nou die oudste kind sou wees. Sy het toe drie klein boeties bygekry. Dit was ook die begin van ʼn baie swaar en moeilike lewe.
Die “pa” se beloftes van goeie versorging het nooit waar geword nie en die welsyn se belofte om gereeld verslag te hou oor haar welstand is ook nooit nagekom nie. Shaney het menige dae honger gaan slaap, is fisiek aangerand en mishandel en is baie sleg deur veral haar nuwe “ma” behandel. Sy het in ʼn gewelddadige, arm en baie vuil huis grootgeword. Die gesin het ook baie rondgetrek en wanneer die ouers nie meer skoolfonds kon bekostig het nie, is die kinders na ʼn ander skool oorgeplaas. “Ek was in sewe hoërskole – van Heidelberg tot Welkom en Henneman in die Vrystaat,” vertel Shaney.
Toe hulle in Welkom gewoon het, was hul huis sowat 20km buite die dorp teenaan die township en moes Shaney en die kleinboeties daagliks skooltoe en terug stap of duimgooi. Haar stiefma het ook gereeld gereël dat Shaney saam met jong mans moes uitgaan – op die voorwaarde dat die man eers vooraf vir die gesin vleis moes bring om te braai. “Gelukkig het die braaiery dan elke keer té laat aangehou en dan het my pa geweier dat ek op die sogenaamde “date” mag gegaan het. Terselfde tyd het my stiefma ook gereeld my maagdelikheid bevraagteken en my dan na die staatshospitaal geneem om dit te bevestig. Dit was ongelooflik vernederend,” vertel Shaney.
Op ʼn stadium was Shaney en haar boeties in ʼn koshuis geplaas waar sy floreer het en ook as koshuisleier gekies is, maar kort voor lank het haar wispelturige ouers die kinders uit die koshuis gehaal.
Kort voor haar matriekeindeksamen moes die gesin weer oppak om te trek. Daar is toe besluit dat Shaney by die stiefma se ouers op Henneman sou agterbly om eksamen te skryf, maar dit was ook van korte duur. Toe Shaney weer ʼn braaiery teegestaan het, het die stiefouma haar en haar karige besittings uit die huis gegooi en Cindy laat vrekskiet.
Sonder enige heenkome het Shaney na haar stiefma se sussie in Pretoria uitgereik. Dié het haar vir die duur van die eindeksamen ingeneem. Shaney moes toe dringend die verskil in curriculum tussen die Vrystaat en Gauteng inhaal. “Dank die Here, ek het geslaag,” het sy gesê,
Van hier af was Shaney op haar eie. Sy het by Olifantsfontein-opleidingsentrum ingekom en het as elektrisiën kwalifiseer. Sy het ʼn werk op ʼn myn gekry en het haar eie woonstel en motortjie gehad. “ Maar ek was naïef en het hals oor kop op ʼn aantreklike gladde-bek kollega verlief geraak en ingestem om met hom te trou.”
Die man het haar gereeld aangerand en sy was as jong vrou reeds ma van twee stiefkinders. Toe kry sy kanker en ten spyte van dokters se voorspellings dat sy nooit kinders sou kon hê nie, het Shaney tog swanger geraak. Die man was woedend. Shaney het op ses maande in kraam gegaan terwyl die gesin in KwaZulu-Natal met vakansie was. Tweeling-dogtertjies Shaney (jnr.) en Ameri is toe gebore, maar net Ameri het oorleef. Van toe af is haar naam verander na Ameri-Shaney.
Skaars ʼn jaar later het Shaney weer met haar karige besittings op die grasperk voor die huis gestaan. Hierdie keer het haar man haar en hul baba net in hul onderklere in die middel van die winter uitgesmyt. “Ons het op daardie stadium op Komatie-kragstasie gewoon.”
Shaney en haar kleinding het toe in ʼn buitekamer op Kriel ingetrek. “Ek het vir ons ʼn bed op die sypaadjie waar die bure dit uitgegooi het, gaan optel.” Shaney het as kontrakwerk ʼn pos by Tavistockmyn gekry. Sy het al om 02:00 soggens opgestaan, reggemaak en begin stap – eers om die kleintjie na die dagmoeder te neem en dan om werk toe te stap.
“Aan die einde van daai maand het ek slegs R1000 van die beloofde R16 000-salaris ontvang. Die maand daarna was dieselfde. Vir ses maande lank het dit so aangehou.”
Shaney het die maatskappy waarvoor sy gewerk het, by die CCMA verkla. Sy kon nie langer haar huur bekostig het nie, en het op die uiteinde in ʼn bouvallige huisie sonder lopende water elektrisiteit langs ʼn paar plakkershutte op ʼn plaas in die Rietspruit-omgewing gaan bly. Bedags het Ameri-Shaney by een van die plakkerskampvroue gebly terwyl Shaney op die myn gaan werk het. Saans het Shaney ’n pot water in die kaggel gekook sodat hulle kon bad. Die plakkersvrou en haar gesin het ook gereeld vir Shaney oorgegooi vir ete.
Die tweetjies se omstandighede het begin verander toe die CCMA beslis het dat Shaney baie skade gely het en behoorlik vergoed moet word. “Met die geld wat uitbetaal het, het ek ʼn deposito op my eerste huis kon neersit en boonop ʼn motor ook koop.” Shaney het in Bethal huis opgesit en daagliks werk toe en terug gependel. Sy het ook meer oor haar biologiese familie probeer uitvind en het aanlyn begin soek.
“Ek het eendag in Bethal van die werk af verby ʼn verwaarloosde man met oorgroot-klere gery en nogal gedink- dit was ek nie so lank gelede nie. Later daardie dag het die einste man aan my deur kom klop. Hy was toe al die tyd my jonger biologiese boetie wat van Oos-Londen af geryloop het om my te kom opsoek. Chris het ingetrek en ʼn werk gekry. Met sy eerste salaris het hy ʼn motorfiets gekoop. Die dag ná die motorfiets afgelewer is, het Chris daarmee verongeluk.”
Shaney het eers op Chris se begrafnis haar biologiese ma en familie-lede ontmoet. Haar ma en van die ander wil niks met haar te doen hê nie. “ Ek het ook eers sowat drie jaar gelede uitgevind dat die man wat my destyds by my pleegouers kom haal het, toe nooit my biologiese pa was nie. Dit was vir my ʼn groot skok.”
Shaney se geloof het deur al die swaarkry net sterker geword. “Ek het lankal klaar gehuil oor alles. Vandag kan ek dit met ander deel. Ek skryf ook ʼn boek daaroor, maar dit vorder stadig, want soms raak die herinneringe te veel.”
Shaney is nou vir vyf gelukkige jare met Okkie van Zyl getroud. “Die Here het vir my ʼn wonderlike man gegee. Hy het ook ʼn seuntjie Corné vir wie ek baie baie lief is.”
Shaney voer tans ʼn stryd teen borskanker, maar bly moedig en dapper. “Ek kan nie nou gaan lê nie. Dit gaan dan so goed met my!