Platrand Boerevereniging hou fondsinsameling

Jandré Kasselman (links) het die skyf¬skiet kompetisie gewen, maar besluit om die windbuks wat op die spel was aan klein JC Naudé (middel) te skenk.
PLATRAND – Platrand Boerevereniging het ‘n fondsinsamelingsprojek ten bate van liefdadigheid op Saterdag, 28 Februarie, aangebied. Belangstellendes en ondersteuners het in hul menigte van heinde en ver na die plaas Erdzak gestroom. Boere, besigheidseienaars, babas, bejaardes en kinders het almal ewe lekker baljaar en gesellig verkeer. Sowat 800 liter bier-uit-die-vat (draught) wat te koop aangebied was, het die manne se dors geles, terwyl daar ‘n bakkievrag vol ander verversings vir die vroue se dors beskikbaar was. Vir die wat bietjie meer gewaagd gevoel het, was daar inspuitings vol sterker ‘kopskieters’. Genoegsame koeldrank en water was vir die kinders en die wat nie alkoholiese verversings benut nie, beskikbaar.
Mnr Van Der Merwe en sy span het worsbroodjies verkoop vir die wat nie kon wag vir die lekker skaaptjops, slaai en skyfies wat later die aand bedien is nie. In die saal het ‘n oempaorkes die mense vermaak met hulle musiek en mense kon, en het, lekker gedans.
Die feesvieringe het tot laatnag aangehou en daar word beoog om volgende jaar weer so te maak. Platrand Boerevereniging bedank graag almal wat belang gestel het en hulle gaan ondersteun het.
‘n Baie spesiale woord van dank gaan aan Nico van der Merwe wat die reëlings mooi in plek gehou het en alles deeglik beplan het. Die Platrand boerevereniging bedank ook graag die volgende borge vir hul onbaatsugtige ondersteuning:-
Wimpy, Dominique Health & Beauty Clinic, Afgri, Ritchie Motors, Stanvaal, JF & JL Hersteldienste, Voermol, Oiltrans, Winkelhaak Verspreiders, Sonskyn Kunsmis, Standerton Dierehospitaal, Midas, Mica, Northmec, We Fix, Eastvaal, Central Vet, Afgri Onderdele, Fountain Bande, Benwood, BKB Louwid, Multibeton, MM Brokers, Kasselman, Standerton Drankwinkel, Appledew, SAB, DEKALB, Osman Raydan, Plaastic, Kosmosnuus, Liquor City, Whap Lounge, Pro Sport, Gert van der Merwe, Riaan Du Plessis, Dual van der Linde, J van der Wath, Ettiene van Tonder en Andries du Plessis (vir die skenk van die skape vir die braai).
SH





