Oosterland-hoof verruil Secunda vir Hartenbos
Sy het nooit geskroom om betrokke te raak by enige aktiwiteite van die skool nie en is gereeld langs die rugbyveld of by kultuurgeleenthede gesien.
Me. Elzette Botes (60), hoof van Hoërskool Oosterland, roep dié skool, asook Secunda, vaarwel toe na 33 jaar.
“Dit is met ‘n swaar hart en vol gemoed dat ek afskeid neem van my skool.
“Oosterland se rooi, wit en blou is ingeprent in my hart,” het me. Botes gesê.
Sy en haar man, mnr. Antonie Botes, wat vir jare as senior projek-ingenieur by Sasol gewerk het, verhuis dié week na Hartenbos.
Me. Botes sien uit na die nuwe hoofstuk in haar lewe en om meer tyd by die see en in die natuur te bestee.
Sy wil egter nie stilsit as die egpaar na Hartenbos verhuis nie en beplan om binnekort by een van die skole in George betrokke te raak en weer haar passie, om wiskundeklasse aan te bied, uit te leef.
Me. Botes het al die jare dat sy die hoof was, steeds die rol as wiskunde-onderwyser by Hoërskool Oosterland vervul en vir die matrieks wiskunde gegee.
Sy het aan die Weskus grootgeword en in 1978 aan Hoërskool Vredenburg gematrikuleer.
Na skool het me. Botes by haar ouer sussie in Pretoria aangesluit en vir ‘n graad in onderwys studeer.
Sy moes destyds kies om vir ‘n graad in besigheid, maatskaplike werk of onderwys te studeer en tydens haar loopbaan as skoolhoof en onderwyser, was al drie dié aspekte in haar beroep ingevleg.
Haar loopbaan as onderwyser het by Hoërskool Pretoria Tuine Tegnies afgeskop totdat die egpaar na Newcastle verhuis het en sy daar by Hoërskool Newcastle en by Tugela gewerk het.
Die egpaar het later na Thabazimbi verhuis en me. Botes het by Hoërskool Frikkie Meyer skoolgehou totdat hulle na Ellisras verhuis het waar sy by Hoërskool Ellisras gewerk het gedurende die dag en by die tegniese kollege op Ellisras aandklasse gegee het.
Sy het in 1988 met haar loopbaan by Hoërskool Oosterland, wat toe nog bekend gestaan het as die tweede Afrikaanse skool op Secunda, begin werk as wiskunde-onderwyser.
Sy is in 2000 as waarnemende hoof aangestel, maar sy was toe reeds ‘n departementshoof.
Sy is in 2002 amptelik as adjunkhoof van Oosterland aangestel en het sedert 2005 waargeneem as hoof van Oosterland, maar is eers in 2008 amptelik aangestel as hoof.
Me. Botes is die eerste vrou in die omgewing wat as skoolhoof aangestel is.
“Die skool het baie finansiële uitdagings gehad toe ek oorgeneem het as hoof,” het me. Botes gesê.
Sy het destyds die musieksentrum in vier nuwe klasse omskep en ook ekstra klaskamers in die hoofgebou ingerig.
Onder me. Botes se leiding het daar ook ‘n krieketakademie, gimnasium, ‘n nuwe meerdoelsentrum, drie woonstelle op die skoolterrein, ‘n pawiljoen, spreiligte, drie nuwe busse en die rekenaarsentrum tot stand gekom.
Sy het ook die klokinstelling by die skool begin en die heel eerste Wieleskou aangebied.
Die skool se orkes het gegroei tot 80 lede.
“Ek het gou besef om hoof te wees, is geen maklike taak nie en my enjinkamer het my baie gehelp om dié rol vol te staan,” het me. Botes gesê.
Haar ‘enjinkamer’ is haar administratiewe personeel, sy het hulle vir hul harde werk en ondersteuning deur die jare bedank.
Me. Botes het ook al die jare haar passie as netbalafrigter uitgeleef en het sewe keer van haar netbalspanne na die Noordvaal-liga geneem.
Sy is ‘n provinsiale netbalskeidsregter- en afrigter en het vir vier jaar provinsiale netbalspanne afgerig.
Sy het gesê die inperking en die Covid-19 pandemie wat verlede jaar in Suid-Afrika begin het, was vir haar ‘n groot uitdaging omdat dit die eerste keer was in haar lewe dat sy met sulke goed te doen gekry het.
“Protesoptogte en stakings het ek al hanteer, maar nog nooit ‘n pandemie en alles wat daarmee saamgaan nie,” het sy gesê.
Sy het nooit geskroom om betrokke te raak by enige aktiwiteite van die skool nie en is gereeld langs die rugbyveld of by kultuurgeleenthede gesien.
“Oosterland het ook aan my eie drie kinders vlerke gegee en een Suid-Afrikaanse hekkies-atleet opgelewer, een Suid-Afrikaanse tamboermajoor en een provinsiale netbalspeler.”
Die personeel van die skool het me. Botes as ‘n harde werker beskryf en haar bedank vir haar onbaatsugtige diens aan Hoëskool Oosterland.
Me. Liné de Vries, skakelbeampte van Oosterland, het gesê me. Botes was betrokke op alle vlakke van bedrywighede en sy het vir jare lank meriete aande gereël en nooit geskroom om self in te spring waar ‘n hand of hulp nodig was nie.
Baie leerders asook oud-leerders van Oosterland het getuig hoe me. Botes altyd betrokke was en hulle bygestaan het.
Sy het selfs ‘n paar keer self in die skool se ‘mascot’-uitrusting, naamlik die Kaptein, geklim.
Die skool het, ter ere aan me. Botes, die meerdoelsentrum, na haar vernoem.
Dié inisiatief is verlede week, tydens me. Botes se laaste week by die skool, onthul.
Die gebou sal gebruik word vir die orkes en sportbyeenkomste.
Me. De Vries het gesê hopelik sal oud-leerders asook nuwe leerders in die toekoms, op dié wyse onthou watse diep spore me. Botes in Oosterland se geskiedenis getrap het.
“Die skool het haar met ‘n swaar hart gegroet en hoop dat sy nou meer tyd saam met haar familie kan bestee,” het me. De Vries gesê.
Me. Botes is die ma van twee seuns en ‘n dogter en ouma van twee kleinkinders.