Mhyste maak beste bokkaas
Mhyste van Wyk het weer eens bewys dat boere-verwelkoming en hartlikheid nie iets is wat in die niet verdwyn het soos van ons tradisionele eienskappe wat blykbaar nie meer waarde het nie. Sy het ʼn persoon sommer dadelik op jou gemak laat voel, met haar spontane geaardheid.
Sy het lank se tyd, aan die voorheen bekend as Pretoria Tegniese Kollege, ʼn Landbou Diploma verwerf. Daarna in diens van die departement van Veeartsenykunde vir 12 jaar. Die roeping as onderwyser het haar egter laat besluit om die HOD-kwalifikasie te verwerf deur Unisa.
Sy gee al vir vyf jaar skool by Hoërskool Hoogenhout in Bethal waar sy Landbou en MSW aanbied.
Met 20 jaar se ondervind met melkbokke kan sy dan ook met gesag praat oor die bedryf. Mhyste vertel haar eerste twee melkbokke het sy al gekoop toe sy nog vir haar landbou-diploma studeer het.
Die kudde het hoe meer lede bygekry en met haar troue 20 getel. Met die verwagting van haar eersteling het sy die hartseer besluit geneem om die kudde verkoop. Die verlange na die melkbok het egter nie verdwyn nie, en al gou het twee ooie op die plaas hulle opwagting gemaak.
Mhyste verhaal met groot trots haar kinders se prestasies met die melkbokke. By die Nasionale Jeug Melkbokskou het die twee kinders uiters goed gevaar. Dit skou is dan ook nie soseer gerig op die bok nie, maar meer op die kind se handtering van die bok. Die deelname bestaan dan ook uit ʼn skriftelike toets, dan is daar die “was”-afdeling waar die kind prakties sy of haar hantering van die bok kan aantoon. Verder moet die bok dan “gespit en gepolish” word vir die beoordeling. Dan die “Skouman” soos dit bekend staan.
Verdere kriteria is netheid van die hanteerder en dier. Daar word ook gekyk na konsentrasie, die spoed waarmee die nodige handelinge uitgevoer wor, die sorg dat instruksies korrek uitgevoer word en die behou van oogkontak met die beoordeellaars en die dier. Dit tel alles punte en dit is voorwaar ʼn prestasie om op trots te wees as onthou word dat die kinders, Mhyme en Roelof, onderskeidelik 8 en 6 jaar oud was.
Mhyste het van haar bokmelkprodukte ingeskryf by die Southern African Goat & Sheep (Milk Producers Oranisation) se Suid-Afrikaanse suiwelkampioenskap. Die produkte was bokmelk-botter en bokmelk Halloumikaas. Mhyste vertel dat sy uiters “chaffed” was toe die organisasie haar per telefoon verwittig het dat haar produkte die tweede plek op die skou behaal het.
Bokmelk bevat 3% vet waarvan bokmelkroom vervaardig word. Ander produkte sluit in jogurt, melk en dan natuurlik Halloumi-kaas. Verwys na die Griekse woord Halloumi of Hallumi. ʼn Cipriotiese semi-harde, onryp, soutwater-kaas vervaardig van bokmelk. Die egte bokmelkkaas het dan ook ʼn hoë smelt-temperatuur. Mhyste vertel dat egte Halloumi-kaas nie smelt as dit warm word nie.
Wanneer die ooie dragtig is, word hulle nie gemelk nie. Droogte periode. Sodra hulle egter gelam het, word die lammers van die ooie geskei en die melkproses begin weer. Die lammers word dan hans grootgemaak.
Sy vertel dat daar hoofsaaklik drie verskillende rasse in die RSA teenwoordig is, naamlik die Saanen, Toggenburg en die British Alpine. Die Saanen is die mees algemeenste onder die bokmelkprodukprodusente. Dit was opmerklik dat die bokke haar stem ken, soos sy met hulle praat terwyl ons tussen die bokke staan en gesels. melkbokke was een van die eerste diere wat mak gemaak is en as huisdier aangehou is. Dié ras sorg dat die Homo Sapiens met kos en klere verskaf is al vir meer as 7000 jaar.