Geane Engelbrecht (16) neem deel aan ’n bergfietswedren. (Foto: Géran Raath Photography)
Geane Engelbrecht (16), ’n gr.11-leerder van Hoërskool Secunda, het die eerste keer dat sy aan ’n padfietswedren deelgeneem het, gewen.
Dié oorwinning was die Mpumalanga Padfietskampioenskap.
Dié jong fietsryer het die 60km-wedren wat in Maart op Badplaas plaasgevind het, in 2:30;55 afgelê en haar provinsiale kleure in padfietsry verwerf.
Sy het ook die tydtoets van 15km by die Mpumalanga Padfietskampioenskap gewen met ’n tyd van 30 min 43 sek en het in April aan die Suid-Afrikaanse Padfietsrykampioenskap op Swellendam deelgeneem en vierde geëindig.
Sy het 80km afgelê in die Suid-Afrikaanse Padfietsrykampioenskap en haar tyd was 2:54;01.
In die tydtoets op Swellendam het sy negende geëindig met ’n tyd van 31 min 5 sek.
Daar was net 12 sekondes verskil tussen haar en die wenner in die 80km-wedren en Geane was in derde plek tot 100m voor die eindstreep, toe een van haar mededingers haar verbygesteek het.
Haar liefde is eintlik bergfietsry, maar sy het die Tour de France op televisie gekyk en toe besluit om padfietsry te probeer.
Haar oupa, mnr. Awie de Swardt (68), is ook ’n kranige fietsryer en ry met ’n padfiets en het ook al verskeie wedrenne gewen en goue medaljes ingepalm.
Geane het verlede jaar ’n entjie met haar oupa se padfiets gaan ry.
Sy verkies egter steeds bergfietsry, want sy sê ’n mens kan ‘speel’ op die pad en hoef nie die hele tyd te konsentreer om so vinnig te ry soos met padfietsry nie.
Die bergfietsry is ook vir haar meer opwindend omdat ’n mens oor hindernisse moet ry en soms deur modder of water.
Sy het begin fietsry toe sy vier jaar oud was en haar niggie het haar op ’n BMX geleer hoe om fiets te ry.
Haar liefde vir fietsry het op laerskool gegroei en sy het toe aan wedrenne begin deelneem en medaljes begin ingepalm.
Sy het in 2018 tweede in drie van die Spur Fietsryreeks se wedrenne geëindig en tweede in die interprovinsiale Suid-Afrikaanse Bergfietskampioenskap, asook in die Suid-Afrikaanse Skole Interprovinsiale Bergfietskampioenskap.
Sy het in 2019 weer presteer en dié keer die interprovinsiale Suid-Afrikaanse Bergfietskampioenskap gewen en tweede geëindig in vyf van die Spur Fietsryreeks se wedrenne.
Retief du Toit, Geane Engelbrecht en Jeadan de Beer by ’n berfietsvaardigheidskursus wat onlangs by Mankele gehou is. (Foto: Hester Spengler).
Sy het ook in die Nissan Trial-reeks in Gauteng, waar daar sowat 300 fietsryers deelneem, aan drie wedrenne deelgeneem en in al drie onder die eerste drie fietsryers geëindig.
Geane is ’n lid by die MegChem Fietsryklub, oefen vyf keer weekliks met haar bergfiets en lê tussen 40 en 65km af per oefensessie.
“Dit is harde werk en nie maklik om so te presteer in fietsry nie,” het mnr. De Swardt gesê.
“In die somer gaan ry sy al in die oggende 04:30 fiets voor skool en in die middae na skool oefen sy weer.”
Haar harde werk is beloon en sy het haar provinsiale kleure in padfietsry, bergfietsry (XCO) en die Spur-reeks verower.
Geane blink ook uit op die hokkieveld en is deel van Hoërskool Secunda se eerste hokkiespan.
Sy het die afgelope vier jaar haar provinsiale kleure in hokkie verower en wou ’n kursus in hokkieafrigting doen, maar dit is gekanselleer weens Covid-19-regulasies.
Geane blink ook uit in atletiek en landloop en het by die interhoër aan 100m, 200m, 400m, verspring en aflos deelgeneem.
Sy wou eers na skool studeer om ’n biokinetikus te word, maar oorweeg dit nou om eerder ’n fietsryafrigter en professionele fietsryer te word.
Sy is reeds in die proses om haar kursus as fiesryafrigter te voltooi en behoort in Oktober amptelik ’n fietsryafrigter te wees.
Geane is deur twee instansies gekies om oorsee aan hokkie deel te neem. Sy het die geleentheid gekry om in Desember in Nederland aan ’n hokkietoernooi deel te neem en in 2023, as sy klaar is met skool, na ’n universiteit in Amerika te gaan, maar mnr. De Swardt het gesê op dié stadium gaan sy eers in Suid-Afrika bly omdat die instansies wat haar genooi het, nie noodwendig êrens geaffilieer is nie.
Geane Engelbrecht (16) neem deel aan ’n bergfietswedren. (Foto: Géran Raath Photography)
Geane fokus tans op haar skoolwerk en berei voor vir die Suid-Afrikaanse XCO (Cross-Country) Bergfietskampioenskap wat in September in Pietermaritzburg plaasvind.
Haar doelwit is om volgende jaar die Suid-Afrikaanse Padfietsrykampioenskap te wen.