Delmas Herleef vra skole om rommel in rande te omskep
Ten einde hande te vat met die groter gemeenskap, wat skole insluit, het Delmas Herleef ’n herwinningsprojek van stapel gestuur.
Die groep Delmas Herleef het ten doel om Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit ’n beter en mooier omgewing te maak.
Volgens die voorsitter van Delmas Herleef, dr. Martin van Rensburg, is deel van die uitdaging die aanhoudende beheer en bestuur van rommel.
“Rommel wat gestrooi word en nie beheer word nie, besoedel en benadeel ’n gemeenskap,” het dr. Van Rensburg gesê.
“Delmas Herleef wil in die gemeenskap, vir die gemeenskap ’n verskil maak.”
Ten einde hande te vat met die groter gemeenskap, wat skole insluit, het die groep ’n herwinningsprojek van stapel gestuur.
“Ons nooi daarom alle skole om vanaf 1 Junie tot 30 September rommel te herwin en te verkoop.”
Rommel in die vorm van papier, glas, blikkies en plastiek vorm deel van dié projek.
Die herwinningsprojek word in die hande van die skole gelaat en elke skool moet self sy rommel verkoop en die gewigstrokies word dan maandeliks by Delkor in Delmas ingehandig.
Kontantstrokies vir rommel verkoop word deur die skole self gehou.
As beloning vir die wen-skool wag daar ’n kontantprys van R10 000.
Die trekking vir die kontantprys sal op 18 Oktober vanjaar plaasvind.
“Ons vra dat die skole asseblief die projek ondersteun,” het dr. Van Rensburg verder gesê.
Navrae kan aan delmasherleef@gmail.com gerig word of alternatiewelik kan dr. Van Rensburg by 083 633 7335 geskakel word.