Airbnb: Doen dit só as jy jou plek wil verhuur
Beplan jy dalk om onbenutte ruimte in blyplek vir gaste te omskep?
Twee huiseienaars in ons Februarie-uitgawe het presies dit gedoen, en slaan nou munt uit die groeiende gewildheid van Airbnb-verblyf. Yvette van Rooyen, wat verantwoordelik is vir Airbnb se bemarking en publisiteit in Afrika, verduidelik hoe jy te werk gaan om jou blyplek op dié gewilde diens te adverteer:
Doen dit só
Op hul webwerf, airbnb.com, kry voornemende verhuurders breedvoerig raad oor hoe gemaak as jy oornagplek wil adverteer. Dis hoe dit werk:
1. Skep ’n profiel: Só kan voornemende gaste sien hoe jou plek lyk en hoeveel dit kos. Dis daarom belangrik om soveel detail moontlik in te sluit en te sorg dat jy mooi foto’s van jou plek beskikbaar het.
2. Besluit op jou tarief: Jy kan self besluit hoeveel geld jy vir gaste wil vra, maar onthou dit moet mededingend wees. “Kyk op die webwerf na soortgelyke eiendomme in jou omgewing en besluit op ’n realistiese prys,” is Yvette se raad.
3. Wag vir besprekings: Danksy Airbnb se elektroniese kalender kan gaste sien of jou plek beskikbaar is of nie. Die gas betaal die bedrag oor aan Airbnb, wat 3% kommissie aftrek om hul eie koste te dek. Die res word dan aan jou (die gasheer) oorbetaal.
4. Maak gereed vir jou gaste: As jy jou eie huis verhuur wanneer jy byvoorbeeld met vakansie is, pak alle persoonlike of waardevolle items weg. Indien dit ’n oornagplek net vir gaste is, maak seker alles is onberispelik – hiervoor kan jy ’n agent gebruik. Airbnb verskaf ’n gasheer-waarborg teen sekere skade ter waarde van tot $1 miljoen. Dit kos niks ekstra nie, maar onthef jou nie van jou plig om die nodige voorsorgmaatreëls te tref nie. “Hoewel skade aan eiendom selde voorkom, verstaan Airbnb dat die gasheer soms beskerming nodig het.” Yvette maan ook dat gashere nie hierdie waarborg as ’n plaasvervanger vir die hul eie versekering moet beskou nie.
5. Die gas en gasheer kan mekaar punte gee na afloop van die kuier. ’n Mens het veertien dae om dit te doen. Só bou huurders én verhuurders ’n profiel op wat op die lang termyn tot hul voordeel kan wees. ’n Goeie naam het niemand nog skade gedoen nie!





