Belladonna meisies in warm water
STANDERTON – AfriForum het die Belladonna-koshuis van die Hoërskool George Hofmeyr in Standerton se warmwaterstelsel herstel. Die meisieskoshuis het sedert Maart sonder warm water gesit. Die skoolhoof het die probleem by die departement van maatskaplike ontwikkeling aangemeld, maar hul versoek het op dowe ore geval.
“Die departement is verantwoordelik vir die instandhouding van die skool se koshuise. Dit is onaanvaarbaar dat meisies so kort voor winter sonder warm water moet klaarkom,” het Hillel Coetzer, AfriForum se takvoorsitter in Standerton, gesê.
Die meisies se ouers het die probleem onder Coetzer se aandag gebring. Die AfriForum-tak het onmiddellik oorgegaan in aksie en die waterstelsel herstel. “Ek is bly dat ons die leerlinge kon help, maar hulle het reeds vir te lank met die probleem saamgeleef. Ons, as burgerregte-organisasie, is daar om gemeenskappe te ondersteun wat aan die kortste end trek, omdat die regering nie dienslewering as prioriteit ag nie. Ons sal sover moontlik help om probleme op te los,” het Jaco Grobbelaar, AfriForum se assistent-koördineerder bygevoeg.
JD