Baba van Trichardt wat ophou asemhaal het, benodig hulp
Reik uit na gesin in nood en help oumagrootjie.
Klein Mateo Oosthuizen (15 maande) is vir sy oumagrootjie, me. Ria Vermaak, ’n wonderwerk.
Dokters het op ’n stadium nie gedink Mateo gaan leef nie en hulle het geen hoop vir hom gehad nie.
Mateo se ma, me. Chante-Lee Oosthuizen, het een dag by sy bedjie gekom toe het hy opgehou asemhaal.
Sy het haar ouma (me. Vermaak) geskakel en hulle het hom eers na Mediclinic Highveld geneem waar hy gestabiliseer is en hy is toe weer huis toe.
Hy het egter die volgende dag koors gehad en steeds nie beter gelyk nie.
Me. Vermaak het hom eers na die Teksdok geneem en later na Evander Hospitaal.
“Hy was voor daardie dag ’n normale baba en daar was niks fout met hom nie,” het me. Vermaak gesê.
Mateo was egter te lank sonder suurstof en vandag is hy gestremd en kan nog nie sit of kruip nie.
Hy is blind in beide sy oë en kan net tussen lig en donker onderskei.
Me. Vermaak werk as naskoolonderwyser by Laerskool Goedehoop en verkoop ysies om die pot aan die kook te hou.
Mateo is in haar sorg en een van me. Vermaak se ander dogters (nie Mateo se ouma nie) help ook om na hom om te sien.
Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en Mateo moet op ’n gereelde basis dokters en spesialiste in Gauteng gaan sien.
Die Universiteit van Pretoria is in die proses om ’n verslag oor Mateo te skryf en om te kyk hoe hulle hom kan help.
Me. Vermaak moet R680 betaal om dié verslag afgehandel te kry.
Mateo is veronderstel om spesiale kos te eet, maar die gesin kan op dié oomblik nie bekostig nie.
Me. Vermaak wil graag haar agterkleinseun na ’n neuroloog in Pretoria neem, maar sy sal die konsultasiefooi kontant moet betaal.
Sy het die terapeute op Secunda, wat uitgereik het na haar en weekliks vir Mateo sien, bedank en gesê dit help die gesin baie.
Belangstellendes wat wil bydra tot Mateo se mediese sorg, kan me. Vermaak skakel op 079 219 1019.