HOE RYM DIT DAN…
Ek, Ta’ Grieta, dink mos terug aani ou dae toe ek en myse siblings saans onder onse ouers se stoele gelê slaap het na die aandstories op die draadloos.
Ons was die ene ore by die Du Toit’s van Soetmelksvlei en ou Gaitse Gubeb in Die Vlaktes Duskant Hebron. Kannie guarantee onse aandag was so skerp by die Kom Laat ons Boeke Vatti, maar nou ja, darem het die Woord onse harte ingeloop. Wat ‘n diepe impression op myse gemoed gehad het, was AM Van Schoor se Uhuru Afrika van daarie dae.
Nou kyk, dit was die fi’st decolonisation van Sir Seretse Khama, Patrice Lumumba en daaise groot name en allie greater powers was ook mos maar vinger innie paai, nê. Dit was nou die Ingelse en Franse en Portuguese en evenie Spanish. Ek moet nou sê baje van daais was bietjie oor my 5 year-oldse kop, ma’ wat ek goed onthou is hoe ôk nie hierie slim man als geverstaan het nie en dan het hy gevra: ‘Hoe rym dit dan?’. Soos ek gesta’ ouer word het, het myse ‘Hoe rym dit dan’ net meer geword, en nie minner nie. Ek had dit altyd verkeerd dat die oueres meer verstaan, sien.
So dag ek nou oor die inauguration van die Golden Fringe vandag da innie verte. Moet sê, vi my meerie kleur van kapoen, daai toupei. Seg die draadloos dat hulle dan nou vannie een ball na die anner moet fletter, sien. Nou, ek issie ‘n ekspert in die dinge nie, maar smaak my mens moet nou darem baie bad karma opgelaai het om so te loop fletter van pa’tie tot pa’tie. Die vrouegoed van daaise pa’ties het glo almal degrees, seg dies wat weet, ma hulle is net trophies – nie lat ek myse ore ytleen vi skinner nie. Nou die trofietjies dress nou op in sukke lappe wat net die whaais en wherefors toemaak, so innie winter, wil jy oorve’tel. Ma smaak my die goedjies in so geinject dat hulle sou kon doen virre banting dish. Nou ek ve’staan nie waaroor hulle nou vette ytrek oppie een plek om net innie anner plek te inject nie, ma ek is nou ôkkie geleerd nie, sien.
Anyway, seg dies wat weet, omme conversation met die trofietjies te wil staan hê, is as easy as om onse prêsident deur ‘n polygraph te sit. Smaak my die goedjies slaap ôk so maklik, al issie oë nou oop, sien. Boonop is hulle so getrain dat hulle niks mag staan sê wat wys hulle het ‘n brein nie – glo nie politicly incorrect weesi. Nou verwonner ek my, ek weetie meer in daai land wat correct en incorrect is nie, en wat gister nog in was is nou yt en annersom.
Klink ôk mos ma soos innie Kaap, nê.
Nou by díe pa’ties moet jy heeltyd met ‘n glasie staan en maak of jy die pystries laaik, sien. Ma jy’s suppose om net jouse lippe nat te maak meti drinks, anners hoe sou ‘n trophie nou lyk as sy getrek soos ‘n broekrek is enni prêsident loop sê sy toupei lyk soos sy policies – bietjie vol pepoen en daai anner ingredient, of hoe?
Nou ja, seg dies wat weet, die mans is nog erger. Gekoller en getaai en gespyt latti gat inni osoon loop groter maak is, ma dis glo die networking enni promises vannie foyers wat die ding doen. Smaak my da word die promises gemaak wat annerdag kom ommi layers van society reg te hou, sien. Seker nou da ôk lat hulle kyk of jy kan Russian praat, net vi in case. Weeti van Afferkaans nie, dalkies kan Steve ons meer sê oor die goeters.