WAT EK BY DIE PARK RUN LEER ….
Nou ja, so breek 1 Januarie 2018 aan en ek loop my eerste Park Run in Secunda op ouderdom 61; NIE omdat ek mooi voornemens het of ‘n toegewyde Noakes volgeling is nie…bloot omdat ‘n goeie maat my nooi. Ekself was nog altyd ‘n aanhanger van Spreuke 28:1 wat spreek van goddeloses wat hardloop as niemand hulle jaag nie.
Ons spring weg en ek loop vir lewe en dood! Tussen veerpootjies in benaamde drag met benaamde hoedjies, benaamde brille en benaamde skoene, swaai ek my ontblote hoof met my sweetpakbroek en vrywilliger SAVF T-hemp, tekkies wat ek by my dogter gekry het en bietjie deur die nuwe hondjie gekou is, loerende deur my bifokale. Ek ken nie die roete nie, my maat wat my genooi het, het lankal die wit waks onder my uitgeloop en ek merk maar so effens een van my ouderdom om by te hou – min wetende sy is sterk oppad na haar 100 runs!
Die roete is gelyk, deur grassies en damme en eendjies; nie een waarvan ek raaksien nie. Ek hyg soos die kleuterstoomtrein op dieselfde gronde, my wange so rooi soos ruimtebrandstof. Ek het shin splints (geen idee wat dit is nie, maar die grend atlete het altyd so gese). Wel, dit voel of daai voorskene afskeur, my regterheup maal soos ‘n ou plaaskoffiemeul, my oge kyk skeel, ek is duiselig soos ‘n perdevulletjie wat pas die lewe gesien het en daar is 3 kilometers verby, 2 wag vir my. Ek voel die oggendpappies opborrel tot in my kieue en ek sien ligflitse voor my. My hande se vingers hang soos goed-gestopte varkworsies en baie onwaardige sweet stroom langs my hare, in my oe, agter in my kraag af.
Ek maak die fout om die roete te beskou; my mens, ek sien wraggies ‘n opdraend en wil elkeen wat mooi Helen Steiner Rice woorde ter aanmoediging gebruik met die vuis slaan. Ek is warm, ek is dors, ek poei soos oorgebruikte Wellingtons, ek is seer en hyg soos ‘n wilde makou. Hierdie is NIE , maar NIE lekker nie. Daar is ‘n vreklang stuk oor en ek verwens elke goedgemanierde tiener wat die “Tannie” bemoedig. Waar ek weggespring het met die idee dat ek effens moeg sou wees na die tyd, sou watertjies drink, gesond sou gloei en herstel binne 20 minute, begin ek ‘n visioen sien dat ek die volgende kilo sal leopard crawl en die laaste een waarskynlik soos iets uit ‘Hurry up, Doc’ nader rol om klaar te maak.
In ‘n koma strompel ek die laaste tree, hoor geen mens nie, sien geen more nie! Ek hang oor ‘n tafel, soek onbeholpe na my Bantamsleutels en wonder hoe my verlamde bene gaan bestuur. Diep getraumatiseerd haal ek net-net die huis, sak bewusteloos op die bed neer en wonder oor watse karma uit ‘n vorige lewe hierdie straf bestem het. Kon ek nie eerder net in ‘n kokkerot verander het nie…
Die dag daarna, smaak my, het my rugbiltonge met 12 sentimeter verkort, gewrigte ge-ontwrig en alle beweging so gemaklik geword soos die van ‘n blok graniet.
Nou waarom daag ek jou wrintie weer op? Ek weet self nie; dalk maar ‘n poging om te wys ek kan rerig nog iets leer. En dit is wat ek leer so oor onse lewensruns:
- Berei voor.
- Hou jou kop koel. Vat ‘n hoed.
- Praat min. Dit maak mens moeg.
- Bly weg van moeilikheid. Smeer sonskerm.
- Ignoreer die onbeskoftes.
- Kry jou eie pas. Hou daarby.
- Niemand gee om oor hoe jy lyk, loop of aantrek nie. Jou tyd maak saak net vir jouself.
- Fokus op die volgende tree.
- Bly op die roete.
- Kyk waar jy loop.
- Moenie gaan staan nie.
- As jy gaan staan is daar altyd volgende Saterdag.
- Drink water.
- Help ander deur doen.
- Moenie rondkyk nie.
- Kies om in jou kop te sing.
- Klein irritasies maak min saak.
- ALMAL lyk sleg na 5 kilometer.
- Word beter.
- Hou net aan.
Tot die volgende run, loop mooi geliefdes.