Ry 12 passe in die Oos-Kaapse Drakensberge
WILLEM VAN DER BERG – WEG
Ek en my pel Conrad Bornman, het vandag met ons reis begin om 12 Oos-Kaapse bergpasse te ry en vandat ons die stukkie grondpad begin vat het iewers tussen Wepener en Sterkspruit, het dié pragtige wêreld gesorg dat ons in ’n baie opgewekte luim is.
Dis ’n geheimsinnige wêreld dié. Vasgedruk tussen Lesotho en Suid-Afrika se berge, maar sonder enige regte grense tussen die twee. Mense beweeg oor en weer oor die vlak water van die Telle. Manne uit Lesotho kom op perde om hulle beeste in Suid-Afrika bymekaar te maak. Vroue van Suid-Afrika gaan klim in taxi’s aan die Lesotho-kant.
Die laaste ent teen Lundeansnek uit is baie mooi en baie groen. Waar die groen hellings en spitse van die berge ophou, vat die blou lug oor. Laat sak die ruite en asem die koel, vars lug in. Bo-op Lundeans kry ons ’n man in weermagdrag en sandale. Hy het ’n 5 liter-kan water in elke hand en oorfone in die ore. Ons hou stil en maak kennis met scout Darius Caliva. Hy is ’n lang, sterkgeboude man van Potchefstroom en baie lief vir rugby. Hy is deel van militêre intelligensie en help nou vir ses maande om die grens hier tussen Suid-Afrika en Lesotho op te pas.
“Ek stap nou weer af basis toe. Hier bo is ’n fontein waar ons water tap en ’n stukkie selfoonsein vang sodat ’n mens darem huis toe kan bel. Dis so vier, vyf kilometer se stap heen en weer. Die manne wat kwaai huis toe verlang stap dit sommer drie keer per ’n dag.”
Al wat kort is ’n watergedrog
Aan die anderkant van Lundeans lyk dinge skielik anders. Hier is kommersiële plase en die perde, beeste en skape is in kampe. Plaashuise word omring deur populierbosse en riviertjies. Ons sak nie heel af tot by Moshesh’s Ford nie, maar swaai oos om met Volunteershoek-pas op te ry Tiffindell toe. Aan die onderkant van dié tweespoorpas word jy ernstig gewaarsku dat dit slegs vir 4×4-voertuie beskore is. Ons het net hier en daar teen die ongelyke steiltes die Isuzu na 4H toe oorgegooi, maar ek het ook onthou hoe ek een slag hier in die reën moes omdraai met ’n motorfiets toe die paadjie heeltemal onrybaar geword het.
Jy klim stywe ente en sommer gou is daar fantastiese uitsigte oor die groen valleie onder jou. Ons stop kort-kort, want elke uitsig lyk mooier as die vorige. Om elke draai lyk dit groener en raak die lug varser. En hoe hoër ons klim en nader aan Tiffindell skuif, hoe kouer word dit. Bo in die berge se rugholte ry ons by ’n groot dam verby. ’n Bordjie langs die pad lees “Loch Ness”. Om ons lê die groen, golwende bergkruine met donkerblou wolke wat om hulle draai, die temperatuurmeter lees 17°C. En ek sweer wanneer ek in die truspieëltjie terugkyk dam toe, steek ’n groot, swart gedrog sy kop bo die water uit.
Tiffindell is uit die aard van die saak maar stil in die somer. So ons ry van hier af Rhodes toe met die Carlislehoek-pas. Hy is in ’n baie beter toestand as die Volunteershoekpas en die kwaai steiltes het sementblaaie. Maar wanneer dit in die winter hier sneeu, is hy ’n lelike derduiwel. Waar die pas aan die onderkant begin, is ’n groot bord wat die padtoestand aandui. As hy dus wys dat slegs 4×4’s met kettings dit boontoe kan waag, moet jy dit asseblief nie met jou nuwe Hilux Legend 45 4×2 probeer nie. Jy gaan nie ’n legend wees nie, want jy gaan nie bo uitkom nie.
Elke keer as ek Rhodes besoek, kyk ek of ek nie die Boom van Goed en Kwaad raaksien nie. Want ek is seker dis hier waar Adam en Eva moes skoert na hulle appeletery. Dis suiwer paradys hier. Aan die suidekant van die dorpie, bo-op ’n bult, is Walkerbouts. Dave Walker, eienaar van dié verblyfplek, sit in die laatmiddagson en kyk uit oor Rhodes en die Bellrivier wat teen hom verbyskarrel. Net ná hy gegroet het, bestel hy vir ons al drie ’n bier uit sy Thanksjalot-kroegie.
“In 1970 het ek die eerste keer getrek geraak hier op Rhodes,” vertel Dave terwyl hy sy Kersvaderbaard vryf. “Ek was mal oor die plek. In 1990 het ek toe hier kom bly en mettertyd hierdie plek aan die gang gekry.” By Walkerbouts kan jy in die aande aansit vir ’n driegangmaaltyd, voorberei deur sjef Mari Small, maar haar pizzas is besonders. Ek en Conrad kies die Italiaanse opsie, want ons weet die res van die reis se aandetes is agter in die bakkie – en dit bestaan uit vleis en aartappels.
Pas van die stoere Boere
Oggende in Rhodes is soos ’n varsgedrukte bladsy. Alles lyk en ruik skerper. En die dou laat lyk die gras, grondstrate, huisdakke en bome asof hulle ink nog nat is. Ons groet, “Thanksjalot, Dave,” en vat die grondpad ooswaarts waar Naudésnek, die tweede hoogste grondpadpas in die land, vir ons wag. Net voordat die pas ernstig begin klim, is daar ’n lieflike stroompie wat teen die berg af en dan oor die pad vloei. Hier langs die pad en stroompie, onder digte akkerbome, is ’n klein monumentjie opgerig vir die Naudé-broers wat gehelp het met hierdie 32 km lange bergpas oor die Drakensberge. Daar staan geskryf: “Ter nagedagtenis aan Stefanus David Naudé en Gabriël Naudé. Die twee stoere boere het in die jaar 1896 teen die steil hange van hierdie berg met hulle perde uitgery en op hulle spore is die penne ingeslaan waarlangs hierdie kronkelpad met pik, graaf en skotskar gebou is.”
Die pad was so paar jaar gelede in ’n baie goeie toestand, maar is deesdae vol verspoelde stukke. So vat jou tyd, dink terug aan hoe moeilik dinge in 1896 was en verkyk jou aan die Naudés en ander harde manne se handewerk. Daar is genoeg plekke met panoramiese uitsigte waar jy kan stilhou en jou aan die wêreld verkyk.
Halfpad boontoe staan ’n trop merino’s die pad toe. Teen hulle linkersye is swart en blou W’s met ink gemerk. ’n Oom met ’n grys baard staan aan die anderkant by sy groen Mahindra Scorpio-bakkie. Oom Willem Nel groet vriendelik as ons deur beur tot by hom. Hy boer aan die ooste- en hier aan die westekant van die berg.
“Ons hou die skaap dié kant as dit somer is. In die winter hou ons hulle weer anderkant, want dan kan die kapokke vreeslik val hierso langs.” Soos in ’64-’65, vertel oom Willem. “Toe het ons sulke rowwe sneeus gehad dat die drade nie eers uitgesteek het nie. Hier het helikopters gekom om kos vir die mense te bring omdat niemand kon ry nie.” Langs die rathefboom steek ’n geweersak uit en oom Willem beduie dis vir die jakkalse.
As hy hoor ons kom van Bloemfontein af, glimlag hy breed.
“Die Cheetahs is mos hoeka my span. Sê my, hoe lyk die manne? Gaan ons iets gemaak kry dié jaar?” Ai oom Willem, al wat ons weet is dat die Cheetahs ’n mens nederig hou.
Net voordat jy heel bo-op Naudés is, draai daar twee spore links af na Tenahead-lodge toe. Dit is ’n baie deftige plek dié en al kan jy nie bekostig om hier oor te bly nie, moet jy beslis gaan inloer. Hulle bedien ontbyt en aandete op afspraak, maar as jy mooi vra, sal hulle vir jou ’n lekker roosterbroodjie met skyfies aanmekaar slaan. Jy mag selfs iets vir die droë keel neem.
Dit is moeilik om lang ente aaneen te ry as jy teen die oostekant van Naudésnek afsak. Die tonele deur jou vensters lyk soos skilderye en jy wil uitklim om seker te maak dat dit nie is nie. Om hierdie bergpas agter te laat is swaar. Om die ongelooflike mooiheid vir dié wat nie daar was nie te beskryf, is nog swaarder. Gaan kyk tog asseblief. En onthou om vir oom Willem moed in te praat oor die jakkalse en die Cheetahs.
Vorentoe vurk die pad. Links ry jy oor Pitseng na Mount Fletcher. Ons swaai regs, Maclear toe. Daar is ’n klein, tjoepstil polisiestasietjie (Elands Height), denneplantasies, strome, golwende heuwels en mistige blou berge langs die pad. Ons ry oor die Potrivierpas en dan oor die Potrivier self. Ek en Conrad begin agterkom dat ons gemiddeld elke 80 sekondes sê: “Hel, dis mooi,” of “Hel, dis lekker.” Of ligte verwerkings van die twee uitsprake. Maar hel, dit ís só mooi en só lekker. Die son raak weg agter donker wolke en berge in die weste en ons is nog ’n ent van Maclear af. ’n Bordjie beduie dat Woodcliffe Country House so paar kilometer van die pad af is, daar na die donker berge toe. Ons skiet in en kry die aand kampplek op Ryan Sephton se lieflike grasperk langs die plaashuis. Luuks.
Heidi en Peter se wêreld
Die volgende oggend vroeg is Ryan se pa, Dallas, by ons met sy 4,2 diesel-Land Cruiser.
“Ek hoor julle soek na bergpasse. Kom ek gaan wys julle ons plaaspas.” ’n Mens mag nie ’n gegewe bergpas van die hand wys nie en ons spring in. Dallas laat die Cruiser deur moerasagtige vleie brul en dan al dieper die kloof inkruip. Ons duik drie keer deur die Klein-Potrivier, wat glad nie so klein is nie. Die twee spore skiet plek-plek die hoogte in en is andersins goed onbeskof.
“Ons wil hierdie paadjie vir toeriste en gaste aanbied as ’n 4×4-roete. Dink jy hulle sal daarvan hou?” vra Dallas so tussen die geskud en geskommel deur. Ek gooi my regterhand se duim in die lug terwyl my linkerhand homself bleek klou aan die handvatsel en my tande mekaar vasbyt. Bo-op die berg is ’n hemelse groen plato waaroor Heidi en Peter enige tyd aangehuppel kan kom. ’n Wonderlike beloning ná die rowwe klim. Dallas vertel sy pa het ook hier geboer, maar rugprobleme gehad.
“Dit was dus vir hom moeilik om oor die plaas te beweeg, want in hierdie berge kan jy net stap, perdry of tot op sekere plekke kom in ’n 4×4. En al daai goed het sy rug net verder opgeneuk. Toe koop hy vir hom ’n vliegtuig. Hy het oral gaan land waar hy wou wees. Een slag het hy teen die hang van ’n berg op gaan land sodat hy vinnig kon stop. Opdraande. Hy is weer teen die skuinste af met die wegtrek, bo-oor die afgrond en daar vang hy toe genoeg spoed en vlie verder.”
Hoewel dit Sondagoggend is, is daar ’n taamlike losgemaal in Maclear wanneer ons later daar aankom. Taxi’s en mense stoei vir spasie. Ons vul ons voorraad ’n bietjie aan en laat spaander. Ons ry deur Ugie en sowat 4 km anderkant die dorp swaai ons regs af van die R56 en vat die grondpad na waar die Bastervoetpad afdraai. Jy moet fyn kyk vir dié afdraai, want die bordjie wat die Bastervoetpad aangedui het, het jare gelede al verweer.
Wanneer jy ou beeskrale en die plaasnaambord “Valetta, Bennie en Marj Venter”, aan die regterkant van die pad sien, dan vat jy daardie tweespoorpad en hou net met hom reguit aan. Jy ry vir lank in die skadu van plantasies voor die paadjie skielik 20 maal versleg en in ’n modderpoel voor jou wegraak. Dit wink eers weer 50m verder dofweg tussen die lang gras.
Jy’s gewaarsku
Kyk, laat ek sommer nou al sê, al die plaaslike mense wat gehoor het ons wil die Bastervoetpad uit, het gesê ons moenie. Dallas se opmerking van “kyk maar hoe ver kom julle”, was die enigste stukkie positiewe kommentaar oor ons kanse. So hier is ons nou. ’n Week ná heelwat reën hier geval het. En dis die grootste probleem; tydens of net ná reën is die pas onrybaar. Maar dit was die afgelope paar dae goed warm en ek droom al te lank oor hierdie twee spore om nie minstens te probeer nie. Ons vat hom versigtig. Meeste van die tyd in 2L. By erge verspoelings hou ons stil en kies eers ’n goeie lyn en kruip oor in 1L. Oor die klippe gaan dit stadig, maar eintlik maklik.
Dis die modder wat vir die meeste sweet teen die voorkop sorg. Jy moet bietjie vet gee om deur te kom, maar ook uiters versigtig wees dat jy nie die bakkie se pens oopsny teen ’n rots of in die lug bly hang nie, want die bakkie sak soms diep weg in die pappery. Die Isuzu doen goed. Dis ek wat, na ek uitgeklim het om ’n lyn te kies, terugstap bakkie toe, teen die glibberige afdraande begin gly, amper my kop teen die enjinkap verbrysel en eindelik, met my tekkies wat wegsink in ’n bruin gemors, tot stilstand kom.
In die 1860’s het die Griekwas, onder leiding van Adam Kok III, hul eie Groot Trek gehad vanaf Philippolis in die Vrystaat tot by Kokstad in KwaZulu-Natal. ’n Groep het egter weggebreek en is hier teen die Drakensberge af met hulle ossewaens om hulle in Ugie en Maclear se omgewing te vestig. Vandaar die pad en naam, die Bastervoetpad. Dit word ook die Dr. Lapa Munnik-pas genoem nadat die pad in die 70’s herstel en deur dr. Munnik in 1979 heropen is. Ná sowat twee en ’n half uur is ons op die bopunt van die Bastervoetpad. Die uitsig is baie mooier as die een wat ek in my gedagtes uitgedink het. Ek kan verder sien. Bo-oor duisende heuwels en spitse tot waar alles in ’n blougrys wasigheid wegraak.
Teen die Bastervoetpad se westelike helling glip ons heelwat vinniger af. Tot by die R393-grondpad waarmee ons ’n ent noordwaarts ry voordat ons na links afdraai om oor die Bottelnekpas te skiet. Die boere in die omgewing vertel dat die pas sommer morsig was so ’n paar jaar gelede, maar dat dit baie mooi herstel is en nou lekker ry.
As jy deur die Bottelnek is, kom jy op die R58 uit tussen Barkly-Oos en Elliot. Ons sak met die Barklypas af en net voor Elliot vat ons weer ’n grondpad wat eers wes en dan noordwes loop. Die pad word later ál nouer en ál rowwer. Die diep en dronk modderspore vertel van onlangse reën en ’n grootskaalse rondglyery. Dit en heelwat verspoelings laat ons stadiger vorder as wat die son sak. Wanneer ons die Otto du Plessis-pas aan die oostekant van die berg bestyg, is die skadu’s lank en donker.
’n Padteken beduie dat ons net 60 km/h mag ry. Ek kyk na die spoednaald. Hy bewe net bo 20 km/h. Dit is egter weer verskriklik mooi hierlangs. Ek weet regtig nie meer watse beskrywings om te gebruik dat jy iets van die silwer strepies watervalle en die klam koeligheid van die skadukant van die berge sal ervaar nie. Gaan voel vir jouself. Dis heel waarskynlik hoe ’n engel moet voel, want dis hoog bo die aarde en volgens my vrek na aan die hemel.
Ons vang die son se laaste strale aan die westekant van die berg en ook ’n ou 2,2-petrol-Hilux wat stadig aankruie en net genoeg stof opskop dat ons nou ons ruite moet opdraai. Daar is nie verbykomkans nie en ons is haastig om nog iewers ’n kampplek langs die pad op te spoor. Die twee koppe voor in die Hilux beweeg heen en weer, maar vang nie ons hoofligte hier agter hulle nie. Ná ’n hele paar kilometer skrik die Hilux tot stilstand aan die linkerkant van die pad. As ons by die bestuurderskant se venster ingluur, sien ons ’n jong laaitie agter die stuur met sy pa langsaan en ons Vrystaatmaniere laat ons stop en groet. Vian Wink vra vreeslik om verskoning vir sy 13-jarige seun, Johan, se swak waarneming in die Sondagaand-spitsverkeer. Hulle nooi ons oor om by hulle op die plaas te slaap, maar ons besluit wragtag andersins en vat weer koers.
Sowat 5 km verder ry ons teen die Clifford-boereverenigingsaal verby en sien ook ’n lieflike klomp dennebome waaronder kampplekke reggemaak is. Nogal met kragpunte en ligte teen die bome. Ons sit die kragboks aan en span uit.
Gly in vir ’n Black Label
“Toe, kom slaap julle eerder op my agterstoep,” groet Vian ons die volgende oggend vroeg. Hy het in Barkly-Oos die kinders op die skoolbus na Zastron gesit en ons hier onder die denne gesien. Die fantastiese kampplek is vir ’n jaarlikse bymekaarkom van veldmotorfietse waartydens die ouens drie dae lank in die berge rondry, verduidelik Vian. En voor ons weer kan teenstribbel het hy ons omgepraat om op die plaas ontbyt te eet en dan saam met hom en sy broer, Thero, die berge in te vaar waar hulle hulle beeste moet bymekaarmaak en na ander kampe toe skuif.
Nadat Vian se vrou, Annetjie, vir haar onverwagse gaste ’n stewige boereontbyt ingegee het en vir ons ’n “skafting” (kosblik, of in dié geval ’n hele koelsak vol brood en koeldrank) gepak het vir die dag se werk in die veld, vertrek ons na die familieplaas waar Thero bly. So rustig soos wat Vian is, so bedrywig is sy ouer broer. Dit lyk asof Thero elke sekonde probeer benut. Ek en Conrad ry saam met Vian in daai einste 2,2-Hilux die berge uit terwyl Thero met sy KTM-veldmotorfiets opgaan. Sy 17 maande-oue seuntjie, Christiaan, is voor hom, al klouende aan die stuurstang. Die mannetjie wil heeltyd saam met sy pa wees. En is mal oor motorfietsry.
Só maak Thero en Christiaan en nog ’n plaaswerker op ’n vierwielmotorfiets die beeste in die berge bymekaar terwyl ons die voerbakke met die Hilux skuif. Thero kom later met ’n slapende Christiaan in sy linkerarm by ons aan sodat hy sy uiltjie verder in die bakkie kan knip. Dis erg warm en wanneer ons later die middag klaar is, vat die Winks ons rivier toe om in ’n poel bergwater af te koel. Dan moet ons eers hulle selfgeboude 120 m-lange foefieslaaid deur ’n populierbos en oor die Saalboomrivier gaan ry. En dan word daar in Thero se skuur/motorfietswerkplek/man-grot langbeen gesit en ’n Black Label gedrink. Teen dié tyd het hulle ons ook oortuig om oor te slaap en die aand saam te braai.
Die pad na Siberië
Die volgende oggend moet ons ons nuwe vriende groet. Maar die vorige dag se avonture saam met die Winks sal lank onthou word. So ’n ent verder na die weste toe neem Greylingspas ons af na die klein stofdorpie Rossouw. Die boere hierlangs praat sommer van die pas as Siberiëpas omdat die plaas onder die pas se naam Siberië heet.
In Rossouw staan net ’n skewe kerk en verder nie veel nie. Aan die anderkant van die dorpie laat klim Killianspas ons weer en dan raak die wêreld skielik oop, met pragtige grasvelde wat vir ons waai soos ons verbyry, Dordrecht se kant toe. Maar voor Dordrecht draai ons met ’n kleiner grondpaadjie terug na Rossouw toe sodat ons oor die Rooiberg kan ry. Ja, hier oor Rooiberg was dit weer ongelooflik mooi.
Dis asof die Oos-Vrystaat en Sederberge een nag skelm hier bymekaargekom het en Rooiberg die lewe ingebring het. Weer deur Rossouw, verby Siberië, Clanville toe. Hier moes jare gelede iets gebeur het, maar nou is dit net ’n klompie vervalle geboue.
Ons werk noordwaarts tot ons tussen Lady Grey en Barkly-Oos op die R58 uitkom en dan vat ons die grondpad na Joubertpas. Ons 12de en laaste grondpadpas van hierdie reis.
Om dit te vier trek ons onder ’n populierbos af en maak vir oulaas vuur. Wors word gebraai en ’n blikkie soetmielies en koue Cokes sorg vir die lekkerste middagete wat nóg in ’n populierbos geniet is. Hierdie paadjie vol jakkalsdraaie tot waar die pas afval in Lady Grey se skoot, is self baie lekker om te ry. Die veld is mooi en vrolik, daar is driffies met water en piekniekplekke onder bome en heelwat verblyf as jy êrens langs die pad wou oorslaap. Aan die bokant van die pas het jy pragtige uitsigte na albei kante toe. Na die weste sien jy die strepie grondpad skerp afsak na waar Lady Grey doer onder vir jou lê en wag. Ooste toe is ’n groen vallei en ’n plaasopstal wat daar wegkruip. Hier bo is ’n klein, groen bordjie wat sê, Hemel op aarde.
En ek dink dit is die perfekte einde en opsomming vir die afgelope vyf dae se ryery deur die Oos-Kaap se berge. Dit was voorwaar hemel op aarde.
Wenke as jy die 12 passe wil ry
* As dit reën of sneeu is die meeste van die passe onbegaanbaar vir voertuie. Ons het middel Februarie gery en was baie gelukkig om perfekte weer te tref. Lente en herfs behoort die veiligste te wees.
* Die roete is 95% grond en die meeste paaie word selde gediens. Hulle is dikwels in ’n slegte toestand. Gee jouself baie meer tyd as gewoonlik sodat jy nie hoef te jaag nie.
* Jy gaan beslis sukkel of jou voertuig seermaak op die Bastervoetpad en Volunteershoek as jy nie ’n 4×4 het nie. En as dit selfs net effens nat is op enige van die twee, sal jy glad nie met ’n 4×2 regkom nie. Die ander passe sal jy met ’n hoë 4×2-voertuig kan baasraak, mits die weer saamspeel.
* Moenie daarop staatmaak dat jy op Rhodes brandstof gaan kry nie. In Maclear, Ugie, Barkly-Oos, Lady Grey, Elliot sal jy kan volmaak.