NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?
Litnet
HENDIE GROBBELAAR
Voordat ek gestenig word vir my ongevoelige gebruik van ’n woord wat na ’n baie sensitiewe en emosionele mediese toestand verwys, laat ek vinnig verduidelik. So vinnig soos wat my vier-en-vyftigjarige brein dit kan doen.
Ek is al sedert 2015 amptelik werkloos, maar is op tientalle werksoekwebwerwe geregistreer. Meer as een van my CV’s per week het op ’n stadium hul pad probeer vind, deur die geraas, na potensiële werkgewers. In die begin was daar nog jammer-briefies, selfs ’n Skype-onderhoud of twee. ’n Bietjie vryskutwerk het darem gevloei uit ’n gesprek of drie, maar ten spyte van ’n uitmuntende gesondheidsrekord, meer as 30 jaar se ondervinding en ’n graad, is die telefoon stil. Dit help ook nie om te bewys dat jy darem nie op jou stertvere gesit het vir vier jaar nie. Jy was besig met internetkursusse hier en kortkursusse daar asook ’n goeie skeut gemeenskapswerk op die koop toe.
Maar hoe nader ek oorhel na 60, hoe meer snap ek wat eintlik vir ons gesê word. Dalk is ek breindood, want ek het nou eers, na vier jaar, besluit genoeg is genoeg.
……….
“Boetie, sussie, laat hierdie antie jou ’n ding vertel – op 50 plus kan ons nog dink, en doen.”
……….
So lees ek mos onlangs ek is nie die enigste middeljarige wat so geïgnoreer word nie. Selfs Eskom, wat kniediep in die bollie is, weier vermoedelik om oudwerknemers aan te stel. Kan jy glo dat uitstekend-opgeleide en talentvolle mense die Engels-spreekwoordelike “koue skouer”, na bewering, gegee word (want warm skouers is daar nie by die kragvoorsiener nie – al die kabels is gesteel of verkeerd ingesit)?
Ons ouer garde klim op vliegtuie en gaan werk in die middel van Afrika, die Verre Ooste en gewese kommunistiese lande. Daardie mense sien ons vaardighede raak; hulle gebruik ons jare lange ondervinding. Hoekom kan ons eie land se maatskappye dit nie raaksien nie? Is hulle domastrant, hoogmoedig, of sommer net venynig?
Op ons ouderdom, wanneer ons op Saterdagmiddae met ons kleinkinders behoort te speel, werk ons in vreemde lande en verlang na rugby, sonskyn en braaivleis. Net omdat ons eie land ons nie meer nodig het, of gebruik wil maak van wat ons het om te bied nie.
……….
“Ons kan somme maak sonder ’n sakrekenaar of daai toepassinkie op jou slimfoon. Ons kan spel, ons kan ordentlik oor ’n telefoon praat … Ons kan ’n debat voer in ’n raadsaal sonder om elke vyf minute op ’n selfoon te kyk.”
……….
Wat moet ons middeljarige (ek haat daardie woord, want dit laat my aan my gesette middel dink) werksoekers nog doen om te bewys ons kan nog ’n bydrae lewer? Moet ons nou op 50 maar omdop en doodgaan? Is daar regtig niemand wat ons nog nodig het nie? Is hulle bang vir ons of ons kennis? Dink hulle ons wil hulle “baby-sit” en vertel wat hulle verkeerd doen? Of het hulle dalk net doodeenvoudig besluit ons breinfunksie bo 50 is heeltemal te stadig om by te hou by hulle vinnige maatskappye?
Boetie, sussie, laat hierdie antie jou ’n ding vertel – op 50 plus kan ons nog dink, en doen. Ons is nie jou ma of pa wat heeldag en aldag vir jou wil vertel wat jy reg of verkeerd doen nie. Ons wil help, ons wil nog iets beteken. Ons weet ons kan. Ons wil nie jou joppie oorvat nie. Ontspan.
Ons kan die internet “surf” dat jou kop draai. Ons kan ’n probleem sien aankom soos ’n snotneus in Aprilmaand na die eerste Kaapse reën. Ons is nie meer liggelowig en naïef nie. Ons reis alleen oorsee, ons klim Kilimandjaro en ons gaan stap die Camino. Ons pak nuwe vaardighede aan, ons begin herwinningsprojekte in ons gemeenskappe. Ons loods veldtogte en ons organiseer konserte. Ons leer minderbevoorregte kindertjies lees – sonder om kwaad te word of iets terug te verwag.
……….
“Ons kan die internet ‘surf’ dat jou kop draai … Ons reis alleen oorsee, ons klim Kilimandjaro en ons gaan stap die Camino.”
……….
Ons gryp ons mans of ons vrouens vas en ons vry dat die sweet teen die mure spat, al beteken dit nou daar moet ’n ekstra glas wyn of ’n ou pilletjie in die proses bykom. Jy sien, ons weet die lewe raak korter, ons het nie meer “hang-ups” oor selluliet en plooie nie. Dit beteken ook ons ontstel ons nie meer vir niks nie. Ons sal ’n aanwins wees in jou maatskappy. Ons dink jy sal kan doen met kalmte tussen jou werknemers.
As jy bang is vir ons wysheid, is jy dommer as dom. Ons kan jou help om nie dieselfde foute as ons te maak nie. Ons weet jy het genoeg foute wat jy self nog moet maak. Hoekom wil jy nie laat ons jou help nie?
Ons het so baie om nog te kan gee. Ons kom uit ’n era waar ons weet wat is harde werk. Ons kan somme maak sonder ’n sakrekenaar of daai toepassinkie op jou slimfoon. Ons kan spel, ons kan ordentlik oor ’n telefoon praat. Ons weet hoe om navorsing te doen uit ’n boek uit, en met die hulp van die internet. Ons kan ’n debat voer in ’n raadsaal sonder om elke vyf minute op ’n selfoon te kyk. Ons kan mense in die oë kyk en ons kan ferm handdrukke gee. Ons kan respek wys en afdwing.
Ons is die vyftigplussers en ons is nog springlewendig.