Kleurvariantjag: Alles is nie swart en wit nie
Geen ander term het in die afgelope paar jaar die jagbedryf só oorheers soos “kleurvariantjag” nie. Dit is die onderwerp van vurige debatte op digitale platforms en om die kampvuur. Dit wil voorkom of jagters ontstoke is oor die soms buitensporige koste wat gevra word om hierdie diere te jag.
´n Plaas se prys word dikwels vir hierdie diere gevra en terwyl talle mense in die internasionale mark dit kan bekostig om hierdie pryse te betaal, skiet plaaslike jagters se finansies ver tekort.
Soos dit blyk, is hulle baie meer oop vir die teling en jag van hierdie diere as wat vroeër gemeen is. Só beweer ´n nuwe studie deur prof Peet van der Merwe en die span by TREES (Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing) aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.
Volgens die opname onder jagters op grond waarvan die verslag saamgestel is, het die meerderheid respondente (81%) aangedui dat hulle nog nooit kleurvariante gejag het nie, terwyl 19% gesê het dat hulle dit wel gedoen het. Daar word geraam dat daar ongeveer 200 000 plaaslike jagters is, wat beteken dat meer as 40 jagters in 2015 kleurvariante gejag het.
Die hoofrede waarom kleurvariante nie gejag word nie, is dat dit heeltemal te duur is om hulle vir vleis- en biltongdoeleindes te jag. Die koste van die diere is bloot nie haalbaar nie. Trofeejagters is verreweg in die minderheid, wat beteken dat dit nie ekonomies is vir die gemiddelde plaaslike jagter om kleurvariante te jag nie. Jagters voel voorts nie dat dit vir hulle nodig is om kleurvariante te jag nie, en dat hierdie diere van geen waarde vir die biltongjagter (vleisjagter) is nie.
Daar is ook die kwessie van beginsel. Die jagters verkies om gewone diere te jag wat natuurlik lyk, en sommige voel dat dit teen hulle beginsels is om diere te jag wat selektief geteel is. Dit is duidelik uit die opname dat talle plaaslike jagters nie goed ingelig is oor kleurvariantdiere nie, aangesien sommige dink dat hierdie diere kunsmatig geneties gewysig word. Dit is egter nie die geval nie, aangesien hierdie diere natuurlik in die natuur voorkom.
Die kleurvariantspesies wat die meeste deur plaaslike jagters gejag word, is die wit blesbok (92%), swart impala (75%), goue gemsbok (75%), goue blouwildebees (75%) en swart springbok (64%). ´n Totaal van 51% van die respondente wat wel kleurvariante gejag het, sê dat hulle weer kleurvariante sal jag. Interessant genoeg voel 54% van die jagters dat die teling van kleurvariante onaanvaarbaar is, 26% dink dit is aanvaarbaar en 20% is nie seker nie.
Jagters voel sterk dat die jag van diere wat in klein kampies geteel word die reputasie van jagter en jag skaad, dat groeistimulante en/of aanvullings ´n negatiewe impak op die bewaring van wild het, en dat die jag van kleurvariante ’n impak op die beskikbaarheid van jagpakkette vir ´n “gewone jagtog” het.
Interessant genoeg het jagters geen gewetensbesware teen die jag van kleurvariante as hulle dieselfde niekleurvariante geprys word nie, maar is al hoe meer daarteen gekant as die prys met 10% of meer verhoog word. Hulle sal egter verhoogde pryse betaal vir kleurvariante indien hulle deel van ’n bekostigbare jagpakket vorm. Die meerderheid jagters stem saam dat daar ’n toekoms vir kleurvariantjag is (39% stem tot ’n mate saam 38% ietwat).
Die jag van kleurvariante deur plaaslike jagters is dus baie prysafhanklik. As die prys reg is, sal hulle kleurvariante jag. Dit geld ook vir alle diere wat vir jagtogte beskikbaar is. Soos vroeër genoem is, is plaaslike jagters pryssensitief.
“Daar moet onthou word dat die insetkoste vir die teel van kleurvariantwild baie hoër is as vir die gewone wild. Die wild is baie duurder om aan te koop en duurder om te verseker, kleiner kampe met duur sekuriteit is nodig, en die oorkoepelende bestuurskoste is hoër. As kleurvariantwild nie reg geprys word vir die plaaslike jagter nie, sal die kleurvariant-wildboere nie hulle besighede kan volhou nie,” sê Van der Merwe.