Myan Subrayan: Rejection, direction, resurrection!
Die manne-aand by Rondekerk het ‘n vol saal manne getrek om na die charismatiese en innemende Myan Subrayan te luister. Die vroukorps het, soos altyd, gesorg vir ‘n keurige ete en helder tafels wat die optimisme van Myan se boodskap uitgedra het – wat ‘n besondere liefdesdiens!
Hierdie unieke man het tot bekering gekom nadat sy Buddistiese familiekring nie bevredigende antwoorde kon verskaf oor godsdiens nie. Toe hy in aanraking kom met die Christelike boodskap en ‘n Skepper wat vir HOM gesterf het, het die boodskap die rigting van sy lewe bepaal. Nadat hy in 2000 aangehou is met ‘n vuurwapen, immigreer die jong gesin na Nieu-Zeeland, maar hier moet hy agterkom dat die transaksie met die verkoop van sy besigheid skeef geloop het.
Hy begin letterlik op sy kniee deur toilette skoon te maak, maar God se kragtige werking lei hom na rugby (‘n sport wat hy verag het) en hy leer die beginsels by niemand anders as die Kiwi’s self nie! So begin hy ook om die taal wat hy verag het (Afrikaans) te leer en te praat. In 2012 keer hulle terug na Suid-Afrika vir ‘n kuier – wat ‘n lang verblyf sou word en hy word die lewensgids vir die Leeus.
Op hierdie stadium was die die span verpletter nadat hulle uit Superrugby geskuif is en hy het 6 maande gehad om die proses om te draai en hulle deur die relegasiewedstryde te begelei. Die span het net een Springbok gehad (teen vandag se 8 of 9!). Deur die fokus te hou, nie op wat die oog sien nie, maar wat die gees glo, het Myan hierdie span begelei tot nuwe rigting en opstanding uit die ruines van hopeloosheid.
Myan se boodskap aan Suid-Afrika is een van hoop en geloof. Hy beklemtoon telkens die belangrikheid daarvan om met die gees te vertrou, eerder as om deur die werklikhede om ons oorweldig te word.
Myan se pragtige vrou, Jolene, het hom vergesel en hierdie formidabele span reis die land (en wereld) plat met Myan se roeping. Hy doen dit ook in Afrikaans – ‘n taal wat hy as hemels beskryf. Sy humor, aanklank by die gewone man, rustigheid, kennis van die Bybel en hartsoortuiging het tot elke man gespreek.
Welgedaan! Secunda hoop om jou weer te sien!