Hoenderslaai met ’n lentegeur
Gebruik oorskiethoender vir ’n lekker vullende slaai – ’n hele ete in een bak, én gesond daarby.
Genoeg vir: 6 porsies
Bereidingstyd: 30 minute
• 6–8 kwarteleiers of 2 hoendereiers
• 1 pakkie aspersies
• 1 klein komkommer, grofgerasper
• 250ml Griekse jogurt
• sap van 1 suurlemoen
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 30ml kruisement, gekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 125g swoerdlose spek, in stukkies gesny
• 6 snye dag oue suurdeegbrood, in stukkies gebreek of in blokkies gesny
• twee hande vol jong roket, bronkors en ander sagte blare
• 1 gaar geroosterde hoender, van die been gevlok
1 Bring ’n klein kastrol met water tot kookpunt. Plaas die eiers in die water en kook die kwarteleiertjies vir 1½ minuut (hoendereiers vir 3–4 minute) en dompel dit in koue water. Dop die eiers af sodra dit koud is.
2 Stoom die aspersies tot brosgaar. Wees versigtig – hulle is binne ’n minuut of twee gereed. Laat afkoel.
3 Meng die komkommer met die jogurt, suurlemoensap, knoffel en kruisement en geur met sout en swartpeper.
4 Verhit die spek in ’n klein braaipan en braai die vet uit. Braai die spek tot bros en goudbruin en dreineer op kombuispapier.
5 Voeg die stukkies brood by die vet in dieselfde pan en braai tot goudbruin.
6 Sit die slaaiblare op ’n mooi dienbord en sprinkel die spek en brood daaroor. Skep die gevlokte hoender en aspersies op die slaai en drup die slaaisous oor. Breek die eiers versigtig oop en voeg dit ook by die slaai. Geur laastens met sout en swartpeper en sit voor.
Wenk Indien verkies, kan die spek weggelaat word; braai die stukkies brood dan in ’n bietjie olyfolie tot bros en goudbruin.