EHS groet hul geliefde hoof
ERMELO – Die nuus was skielik. Dit was so onverwags. Ja, dit het ons almal verpletter gelaat, maar met soveel hoop… juis omdat ons so séker weet dat hierdie kind van die Here Tuisgekom het.
Daarom…
…‘n EHS-huldeblyk aan ‘n geliefde hoof…
Mnr Bok Martins (15 Januarie 1964 – 15 Augustus 2014)
Ons wil graag vir mev Annemie Martins en hul drie kinders – Nico, Annerie en Ferdie – ons diepste meegevoel betuig met die heengaan van jul geliefde man en pa.
‘n Hele omgewing, skoolgemeenskap, personeelkorps, kinders en ouers staan stom en verslae, maar bring hulde aan ‘n onderwysman sonder weerga. Die vier jaar waarin hy voorgeloop het in Hoërskool Ermelo het ‘n verskil gemaak in die skool, in mense se lewens en in ons gemeenskap.
Vir mnr Bok was die begin- en einddatum van elke mens ‘n gegewe; wat vir hom wel saak gemaak het, was die strepie tussenin. Dáároor het hy baie gepraat met kinders en onderwysers: hoe ons lewe, hoe ons moet werk aan ons persoonlike verhouding met ons Here en hoe ons ‘n verskil moet maak in ander mense se lewens. Ons sal hierdie nalatenskap koester.
Sy leierskap het gespreek van wysheid, insig, strategiese beplanning, harde werk, entoesiasme, visie en dryfkrag. En: sy leierskap het geborgenheid en sekuriteit gebied aan ‘n ieder en elk – jou rug was nooit oop nie. Sy geloof in elke kind en onderwyser en elke mens se potensiaal, was die motivering agter die Mpumalanga Leierskap Instituut wat hy hier kom vestig het. Elke jaar is die Erries en personeel toegerus met wonderlike kwaliteite van leierskap. Ons sal sy droom dat elke kind ‘n leier in eie reg is, nooit agterweë laat bly nie.
By hom kon ons leer dat jy foute mag maak, maar maak dit reg en onthou om te vergewe…
Akademie is die heel belangrikste. Só het hy dit altyd beklemtoon. Baie moeite is dwarsdeur ‘n jaar gedoen om te sorg dat elke kind goed sal slaag. Alle moontlike ondersteuning is gebied. Hy het sy vinger op die pols van die akademie gehad.
Daar is nie ‘n sportveld of -baan waar hy nie langs die kantlyn gestaan het nie. Vir menige Errie en afrigter sal die bekende gesig van mnr Bok se stil ondersteuning altyd ‘n gemis bly. Geen wedstryd wat gespeel is, of spanne wat gedurende vakansies op toer was, was te vêr of te veel vir hom om by te woon nie. Hierdie passie vir sy skool se kinders het hulle aangemoedig om meer te doen as wat hul kon; om aan te hou as ander al opgehou het. Dan was hy altyd die een om hul te prys met hul Errie-‘guts’… al was dit soms ‘n verloortelling – want wen was nie alles nie, maar karakterbou is waaroor dit gaan. Mnr Bok, dankie vir jou ongekende lojaliteit! Jy was vir ons die voorbeeld!
Kultuuraktiwiteite was vir hom só belangrik dat hy een jaar die hele skool laat deelneem het aan ‘n revue. Wat ‘n groot sukses – hy bly die planmaker, maar die einddoel is dat die kinders dit moet geniet en kultuur moet ervaar. Elke Errie moet aan ten minste een kultuuraktiwiteit deelneem – dít was sy ideaal.
Kennis is baie belangrik, sport en kultuur is goed vir elke kind, maar hy het dit gesien as die ‘voertuie’ om by ‘n kind se hart uit te kom en hom of haar die beste te maak wat hy of sy kan wees. So het hy altyd gesê. Hierdie lewensuitkyk van mnr Bok het ‘n leefwyse geword by EHS en ons vertrou om daarop voort te bou. Ons sal hom onthou as die een wat sy personeel bemagtig het, hul ondersteun het, hulle vertrou het, in hul geglo het en sodoende elkeen sterker gemaak het vir sy of haar taak.
Dit was ‘n ongelooflike voorreg om die onderwyspad saam met so ‘n mentor, kollega en vriend te kon stap. Saam met hom kon ons helder en duidelik sién waarheen ons oppad was.
Mnr Bok se nederigheid, sy opregte dankbaarheid vir elke geringe taak wat verrig is, of prestasie wat behaal is, kon ons vir vier jaar lank ervaar… en dit het sy omgee-hart vir ons gewys.
Nog ‘n bekende frase van mnr Bok was: “Ons kan nie net praat nie, ons moet nou doen.” In hierdie vier jaar het hy soveel laat gebeur by ons skool; soveel ís gedoen. Ons spog met ‘n pragtige terrein vol van sy drome wat waar geword het. Daarvoor is ons diep dank verskuldig aan hom.
Die klimaat van uitnemendheid wat hy hier kom vestig het, die waardes wat hy in elke Errie kom vaslê het, het ‘n verskil kom maak. Dít maak die Erries anders!
Sy woorde in ons skool se Eeufees Gedenkalbum: “Ons grootste dank en waardering aan ons Leier, Jesus Christus, vir ‘n ongelooflike eeu wat Hoërskool Ermelo kon beleef en ervaar. Die seëninge wat elke Errie beleef en ervaar het, kom uit Sy hand.” Hy het onwrikbaar vas gestaan in sy geloof en nooit geskroom om dit met almal te deel as die heel belangrikste in elke mens se lewe.
En hiermee óns grootste dank aan ons Hemelse Vader vir ‘n wonderlike hoof wat vir vier jaar aan EHS gegee is. Dankie dat ons saam met hom kon leef en werk. Dankie dat ons saam met hom die seëninge wat oor EHS uitgestort is, kon beleef. Ook hý is deur God uitgekies vir hierdie bepaalde tyd en doel in ons skool se geskiedenis. Ons eer sy nagedagtenis.
Rus in vrede, mnr Bok. Hoërskool Ermelo salueer u! – Hoërskool Ermelo.
Die roudiens vir publiek sal Vrydag om 13:00 vanuit die Moedergemeente, Ermelo plaasvind.