‘n Orrelis van formaat…
ERMELO – Hentus van Rooyen is ‘n trotse oud-Errie wat tans in die wêreld van musiek gróót opslae maak. Hy was van 2002 tot 2006 ‘n leerling van Hoërskool Ermelo en het hoofsaaklik by die skool ingeskryf omdat hy musiekonderrig aan die ABK van Zijl-musieksentrum wou ontvang.
Hy het klavieronderrig by die bekwame wyle Ansophie Dippenaar ontvang wie vir hom ‘n groot inspirasie was en veral ‘n waardevolle bydrae tot die ontwikkeling van sy bladleesvermoëns gelewer het. Hy het in sy gr 9-jaar met orrelonderrig by me Marguerite Jacobsz begin en dit was vroeg reeds duidelik dat hy ‘n natuurlike aanleg vir dié instrument gehad het.
Hentus was hardwerkend en pligsgetrou en het vinnig gevorder, aangesien hy in sy matriekjaar reeds sy gr 7 orrel- en klaviereksamen by Unisa met lof geslaag het – voorwaar ‘n prestasie! Hy het ook klarinetles by mnr Edwin Randell geneem en was baie betrokke by alle aktiwiteite van die Musieksentrum. Dit kan dus met oortuiging gesê word dat musiek reeds op ‘n jong ouderdom ‘n groot rol in Hentus se lewe gespeel het.
Ná skool het hy sy studies aan die Universiteit van Pretoria voortgesit en orrelonderrig by die bekende professor Wim Viljoen ontvang wat daartoe gelei het dat hy sy B.Mus-graad in Orrel Uitvoerende Kuns in 2010 met lof verwerf het. Tydens sy nagraadse studies aan die Universiteit van Pretoria het hy verskeie beurse losgeslaan wat hom in staat gestel het om sy orrelstudies aan die Universiteit van Noord-Texas in die VSA voort te sit, onder die leiding van professor Jesse Eschbach. Hy het, onder andere, die Stephanus Zondagh Oorsese Musiekstudiebeurs by Unisa gewen.
Gedurende sy studies in Texas, was Hentus betrokke by die begeleiding van ‘n barokkoor en -orkes. Hy is ook as ‘n ‘teaching fellow’ aangestel wat behels het dat hy les gee vir voorgraadse studente wat orrel as ‘n tweede instrument neem.
Hy het vanjaar die nagraadse kategorie van die 43ste William C (Bill) Hall Orrelkompetisie in San Antonio, Texas losgeslaan en beoog om teen Desember 2015 met sy ‘Doctor of Musical Arts’-graad in Orrel Uitvoerende Kuns aan die Universiteit van Noord-Texas te gradueer. Om dít te kan regkry, moet hy sowat vier ure elke dag oefen. Dit is egter vir hom geen probleem nie, want om orrel te speel, is vir hom ‘n passie.
Op 1 Augustus 2014, tydens sy vakansie in Suid-Afrika, het Hentus na Ermelo teruggekeer waar hy ‘n konsert in die NG-Moedergemeente gehou het. Die gemak en vaardigheid waarmee hy tegnies moeilike werke uitgevoer het, het ‘n waarderende gehoor baie beϊndruk. Die bekende ‘Toccata en Fuga in d mineur’ van JS Bach was veral ‘n gewilde keuse!
Hy gaan ook nou deelneem aan die Suider-Afrikaanse Kerkorreliste Vereniging se beurskompetisie waar hy ingeskryf het in die DMus-kategorie. Hentus beoog om in September aan die ATKV Muziq Nasionale Klassieke Musiekkompetisie deel te neem, waarna hy gaan terugkeer na die VSA om sy studies te voltooi.
Hoërskool Ermelo hou Hentus se loopbaan met afwagting dop en is seker dat daar ‘n blink toekoms op hom wag. Hy is voorwaar ‘n Errie om op trots te wees! DK