Charné gaan groot met reeks
Ná maande se haarfynbepanning en ure se salonwerk, het Charné van Zyl (30) se groot aand aangebreek.
Modelle met fantasie-maskers en kapsels van kleure en style wat kompleet uit ‘n ultra-moderne tydskrif kom, het Saterdagaand die rooitapyt by Our Palace betree om die bekendstelling van Charné se eie produkreeks aan te kondig.
“‘n Kliënt het ‘n paar maande gelede vir my vertel hoe jaloers sy op haar man se mooi reguit hare is. Daarna het dié gesprek in my kop bly maal tot een aand toe dit skielik by my opgekom het. Ek het uit die bed opgevlieg, my man wakkergemaak en hom vertel nou weet ek wat ek moet doen – en dis nie slaap nie. Ek het toe geweet ek moet my eie produktereeks begin en die naam moet wees Hair Jealousy!”
Kyk, as daar nou een woord is wat Charné kan beskryf, is dit “kreatief”. Dié petite geboude vrou is die eienaar Scissorhands-haarstiliste in Trichardt. Haar eie kop loop eerste deur as sy ‘n nuwe gier, kleur of produk wil probeer. “Hare groei mos weer terug,” skerts sy. Op oog af sal sommige haar dalk kan beskryf as “ punk”, “funky”, rebels of selfs bietjie “emo”, maar dié ma van twee seuntjies is ‘n borrelende self-erkende Christen met ‘n ongelooflike lus vir die lewe. “Ek is beslis nie ‘n strikkie-en-kant-meisie nie, maar hou eerder van swart oprygstewels, baie oorringe, tatoeërmerke en ‘n serp met ‘n kobbeen-motief,” vertel sy. Inteendeel, in haar studentejare het haar pa na haar verwys as “Charné Pierce” vertel sy.
Volgens Charné was dit ‘n uitdaging om ‘n vervaardiger te kry wat op klein skaal ‘n produkreeks sal maak. “Ek het baie keer gehoor dis net soveel makliker as ek reeds gevestigde handelsmerke aanhou en nie my eie probeer maak nie, maar gelukkig het ons deurgedruk. Nou het ek my eie handelsnaam met ‘n reeks van silwer sjampoe en opknapper vir blonde hare, ‘n sulfaat-vrye sjampoe en keratin-opknapper, ‘n haar-waks, haarjel en Argon-olie.”
Sy wil hierdie produkte in haar salon aanhou en hopelik sal dit na ander plekke kan versprei, maar sy sien nie haarself as ‘n verskaffer nie.
Charné het op Secunda grootgeword en aan Hoërskool Oosterland matrikuleer. Sy het toe aan Franco’s International in Johannesburg se haarkappersopleidingsinstituut gegradueer.
Met haar kwalifikasie in die hand het sy in London gaan werk waar sy veral verhoogkunstenaars onder die skêr gekry het. Hierna het sy vir ‘n tyd lank op skepe gewerk, toe weer in Skotland en het uiteindelik in Sandton haar Suid-Afrikaanse voete weer gevind.
Charné het ‘n bietjie meer as ‘n jaar Scissorhands geopen. Sy en haar man Duncan het hierheen verhuis omdat hy die Pick ‘n Pay in die Secunda mall begin het. “ Ek dink soms ek is sy Wild Card,” lag sy.
Charné leef elke dag haar liefde vir hare uit. “Ek het nog nooit gaan “werk” nie, net myself gaan uitleef.”
Charné beoog om vanaf 27 Junie maandeliks ‘n rubriek in die Secunda en Bethal Insig te plaas waarin sy raadgee, met ons lesers gesels en idees gaan wys.
Arisja Misselhorn





