Hervormde kerk Bethal
Toe JC Leemhuis, bekende Pretoria-bouer van die 1920’s, die klipkerk in Bethal se Vermootenstraat opgerig het, het beslis gesorg dat hierdie geskiedkundige baken vir nog baie jare staande sou bly.
Dié kerkgebou van die Nederduitsch Hervormde Kerk se Bethal-gemeente is deur die argitek Gerard Moerdyk ontwerp en in 1926 ingehuldig. Die hoeksteen is deur die destydse gemeente-konsulent, ds. L.E. Brandt, gelê.
Die kerkgebou is ontwerp vir 400 lidmate en het die gemeente destyds R6 600 gekos.
Dié besonderse gebou van gekapte sandsteenklip met ʼn sinkdak is volgens kenners ʼn argitektoniese juweel omdat daar glo geen ander gebou is wat moontlik dieselfde voorkoms het nie en dit is ook baie kenmerkend aan Moerdyk se styl.
Ná die oprig van ʼn nuwe, groter kerkgebou in 1965 vlak langs die ou kerkgebou, was die oorweging om die ou gebou te sloop, van korte duur. Dit het geblyk dat hierdie gebou so stewig aangemaak gesit was, dat dit slegs met behulp van dinamiet afgebreek kon word.
Dié ou kerkgebou is eers, op aanbeveling van die destydse predikant, ds. A.T. McDonald aan die NG Oos-gemeente op die dorp geleen.
Dit is later as ʼn saal ingerig en word steeds gebruik. Dr. en mev. HJ Botes vir maande gewerk om die kerkgebou te behou. Dit is in September 1988 in die Staatskoerant as ʼn nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Die Nederduitsch Hervormde Kerk se Bethal-gemeente het egter reeds jare vóór die oprig van die ou kerkgebou op Bethal tot stand gekom. Die oorspronklike gemeente het aanvanklik as deel van die wyk Blesbokspruit onder die gemeente Heidelberg geressorteer.
Die wyk Blesbokspruit is in 1870 by die gemeente van Heidelberg ingelyf. Standerton is in 1879 tot afsonderlike distrik verklaar en toe het die algemene kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk besluit dat die nuwe distrik ook ʼn nuwe gemeente sal wees met die distrik-grense ook die gemeentegrense.
Standerton was veronderstel om die middelpunt van hierdie nuwe gemeente te wees, maar omdat die eerste kerkgebou toe reeds op Trichardtsfontein opgerig is en reeds in 1884 ingewy is, was die grootste konsentrasie gemeente lede nader aan Trichardtsfontein as aan Standerton.
Daar was op daardie stadium ook “kerkplekke” op Eendracht en Bethal en mettertyd het die lidmatetal ook rondom hierdie kerkplekke uitgebrei sodat dit noodsaaklik was om drie afsonderlike gemeentes te stig, naamlik Standerton in 1915, Eendracht in 1917 en Bethal in 1918.
Ná die stigting van die Bethal-gemeente het die bestaande predikant slegs agt maande later na Standerton verhuis. Die Bethal-gemeente was dus in die beginjare nie deur ʼn eie predikant bearbei nie, en is daar op gemeente-konsulente staatgemaak. Die eerste amptelike predikant, ds. J.G.M. Dreyer, het eers 10 jaar later hier beroep aanvaar.
Planne vir die bou van hul eie kerk is reeds vanaf die nuutgestigte Bethal-gemeente se eerste kerkraadvergadering begin. Intussen het die gemeente die Gereformeerde Kerk se gebou geleen om dienste te hou en nagmaal te vier.
Vandag is die gemeente steeds aan die rep en roer. Verskeie ander geriewe en geboue is al op die kerkgronde opgerig, ʼn nuwe pastorie het die lig gesien en die bediening onder die gemeente, van oud tot jonk, gaan van krag tot krag.
Dr. Hannes Beukes is na meer as twee dekades steeds die gemeente se herder.