Winsgewendheid teenoor Opbrengs op Kapitaal by Beesboerdery
Is winsgewendheid of opbrengs op kapitaal die belangrikste by beesboerdery? ‘n Onlangse vraag op ‘n Facebook-blad oor wat boere se huidige produksie kostes is vir ‘n 240kg speenkalf, het my laat wonder hoekom daar sulke groot verskille in die antwoorde was op die vraag. Is daar genoegsame beesboerdery inligting en navorsing beskikbaar om dit te verduidelik?
Daar was nie net groot verskille op gerapporteerde produksie kostes nie, maar ook in die metodes wat gebruik word om dit te bereken (Lees meer oor my gunsteling metode om produksie koste per kalf te bereken).
Die antwoord in kort is dat almal se insetkostes en kapitale uitleg verskil. Beide die faktore speel ’n groot rol in elkeen se gerapporteerde produksie kostes, winsgewendheid en opbrengs op kapitaal. Dus is dit belangrik dat elke boer sy eie omstandighede moet oorweeg om ingeligte besluite oor sy beesboerdery te kan maak.
Om die punt te illustreer gaan ons na een plaas van so 434 hektaar kyk waarop daar geen woning is nie maar dit is wel ten volle toegerus vir beesboerdery (kampe, damme en kripe). Daar gaan met dieselfde hoeveelheid koeie en bulle geboer word, maar onder drie verskillende opsies, naamlik:
- Dis ’n erfplaas of word kontant gekoop;
- Die plaas word gekoop met ’n 100% lening teen prima rentekoers (boerdery finansiering); en
- Die plaas word gehuur.
Oorhoofse aannames ter illustrasie (tabel 1):
Produksie koste per kalf
Produksie kostes vir die drie verskillende opsies word vir die voorbeeld se doeleindes dieselfde gehou, behalwe vir die rente op verband (opsie 2) en huur uitgawe (opsie 3) wat uitsonderings is. Omdat almal se omstandighede verskil, gaan hulle insetkostes ook verskil bv. een boer kan brandversekering uitneem terwyl ’n ander nie of een meng sy eie lek en ’n ander een koop dit klaar gemeng, ens.
Produksie koste opsomming (tabel 2):
Uit tabel 2 blyk dit duidelik waarom daar so wye verskeidenheid produksie koste per kalf onder beesboere is. Opsie 1 lyk op die oog af die mees winsgewendste te wees, amper asof die boer skoon wins maak met ’n verkoopprys van R6,600 (220kg @ R30/kg) teenoor koste van R1,836 per kalf. Dis ook duidelik uit die tabel dat opsie 2 waar boerdery finansiering bekom is, nie baie winsgewend is nie. Opsie 2 se boer gaan eers wins begin toon in jaar 9 wanneer sy rente uitgawe R347,345 (tabel 3) is en dus genoegsaam gedaal het om sy produksie kostes so te verlaag dat hy winsgewend kan boer. (Verwys tabel 3 hieronder wat die boer se jaarlikse rente uitgawe aandui teenoor die kapitaal wat hy jaarliks in die grond belê).
Amortisasie skedule vir opsie 2 se lening terugbetaling (tabel 3):
Kapitale uitleg
Ons moet ook na die kapitale uitleg van elke boer kyk om werklik te kan verstaan watter een van ons drie opsies die beste opbrengs op kapitaal gaan lewer. Boerdery is tog ’n besigheid en moet ’n redelike opbrengs op kapitaal realiseer wat ander beleggings met soortgelyke vlakke van risikos, kan klop.
Kapitale uitleg einde jaar 1 – (tabel 4)
Die erfgrond of kontant gekoopte grond in opsie 1 word teen markwaarde aangedui omdat die geld in iets anders belê kon word as grond. Die kapitaal is dus vas belê in die boerdery.
In opsie 2 word die opgelope kapitaalgedeelte van die lening vir grond, einde van die spesifieke jaar ingesluit. Met ander woorde, die kapitaalgedeelte van al die paaiemente tot op datum betaal soos uiteengesit in tabel 3. In jaar 1 is dit min maar oor die jare sal dit toeneem tot einde van jaar 20, waar die volle kapitaal terugbetaal is nl. R4,340,000.
Kallervoorraad moet ook ingesluit word want dit is bedryfskapitaal wat ontplooi word om die kallers te produseer en sal eers verhaal word wanneer die kallers wat in voorraad is, verkoop word. Kallervoorraad waarde word bereken deur die produksie koste per kalf wat bereken is in tabel 2 te maal met die hoeveelheid kallers op hande. In die voorbeeld het ons 73 lewende kallers produseer waarvan 35 verkoop is. Ons het dus 38 kallers in voorraad. Opsie 1 is dus 38 x R1,835.62 = R69,753.
Noudat ons weet wat elke opsie se kapitale uitleg is, kan ons die opbrengs op kapitaal vir die jaar bereken.
Opbrengs op kapitaal (tabel 5)
Die vraag wat uit tabel 5 beantwoord moet word, is hoe die opbrengste vergelyk met ’n ander belegging met soortgelyke risiko? Dink almal sal saam stem dat ’n vaste deposito by ’n bank minder risko dra as beesboerdery. Beeste kan gesteel word, plase kan brand en beeste kan van siektes sterf. ’n Vaste deposito dra nie sulke risikos nie. So ons kan verwag dat die opbrengs op beesboerdery aansienlik hoër moet wees as die huidige 7% vir ’n vaste deposito.
Alhoewel opsie 1 aansienlik laer is as die opbrengs op vaste deposito het die boer die vooruitsig dat sy grond in waarde kan toeneem indien ekonomiese toestande dit toelaat, maar dit sal jaarlikse groei moet wees van +/- 4% bo inflasie om met opsie 3 te vergelyk. Opsie 3 is net-net hoër as die 7% van ’n vaste deposito.
Gevolgtrekking
Dit is duidelik dat elke boer se omstandighede verskil en dat daar baie veranderlikes is wat sy produksie koste per kalf, winsgewendheid en opbrengs op kapitaal gaan beïnvloed. Elke boer moet sy eie somme noukeuring maak en sy kostes, winsgewendheid en opbrengs op kapitaal gereeld meet en bestuur, om volhoubaar te kan boer.