Een van laaste oorblywende waens van Groot Trek by VTM
Dié wa was deel van die Slag van Bloedrivier…
In die Voortrekkermonument is daar ’n spesiale stuk geskiedenis vir die Laas- en Pieterse-familie.
Die Laas-wa is een van die laaste oorblywende kakebeenwaens wat nog aan die Groot Trek deelgeneem het en die tweede oudste ossewa in Suid-Afrika.
Die Laas-familie het deel gevorm van Karel Landman se trekgeselskap wat die Kaap in 1837 verlaat het.
Die wa was deel van die Slag van Bloedrivier.
Gerhardus Pieterse (93), ’n direkte afstammeling van een van die Laas-dogters het die afgelope week by die Voortrekkermonument kom kuier en die bekende Laas-wa, in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument, kom besoek.
“As mens so voor hierdie groen wa staan, laat dit mens nogal diep dink,” vertel hy.
“Ons is afkomstig van baie sterk mense wat hul lewens in die Kaap verlaat het vir ’n beter toekoms; een waarvan ons steeds die vrugte pluk. Mens kan nie anders as om te wonder hoe die lewe tóé was nie.”
Volgens oorlewering het die wamaker en latere Voortrekkerleier Gerrit Maritz die kakebeenwa in die 1820’s vir Johannes Andries Marthinus Laas gebou.
Johannes Andries Marthinus (en sy pa Andries Marthinus en sy broer Cornelis Johannes) het einde Oktober 1837 met Karel Landman se trek uit die Onder-Boesmansrivierwyk, Uitenhage, noordwaarts op die spore van Uys getrek.
Op 1 Mei 1859 het ’n Scheuer-familie hulle op die plaas Mooiplaats tussen Pietermaritzburg en Greytown gevestig.
Dié plaas van 5 830 hektaar is vir ongeveer £400 van die Voortrekker Cornelis Johannes Laas gekoop.
Cornelis en sy broer, J.A. Marthinus Laas van Doornkop (by die huidige Schroeders), het na Amersfoort in die destydse Transvaal vertrek en hulle op die plaas Strydkraal gevestig.
Een van die waens waarmee hulle getrek het, was die Laas-wa.
Na drie generasies het Hendrik Laas die wa aan Laerskool Amersfoort geskenk vir bewaring.
Met die oog op die herdenking van die Groot Trek in 1938, het Floris Dafel en helpers die wa gerestoureer, sodat dit ook aan die Simboliese Ossewatrek kon deelneem.
In 2021 is die Laas-wa aan die FAK oorgedra vir bewaring in die Voortrekkermonument.
Prof. Erik Holm het die wa volledig gerestoureer, gedeeltelik gefinansier deur Barend Uys, familie van die Laas-familie. Die Laas-wa is hoogs waarskynlik die oudste behoue kakebeenwa in die voormalige Transvaal, en die enigste oorblywende wa van die Groot Trek.
Om die sierlike en kunssinnige afwerking van oorspronklike kakebeenwaens te vertoon, het Louise Holm die beskildering volgens tradisionele patrone gedoen.
Mooi geverfde houtwerk en pragtige ornamentele smeewerk getuig van die vakmanskap en kulturele nalatenskap van die Kaapse wabouers en kan in die Senotaafsaal van die monument besigtig word.
Bron: Rekord