Moot Ma’s se Stryd om Boeliegedrag te Beëindig
Moot-ma’s probeer skrikbewind van boelies stop sit deur formele kanale te volg
Die Gauteng Departement van Onderwys glo hulle is toegerus om boeliegedrag met formele prosedures en regulasies, bewusmakingsveldtogte, en toegewyde amptenare te hanteer mits voorvalle gerapporteer word.
Die Gautengse Departement van Opvoeding sê dit is die reg van ouers van kinders wat onder boelies by die skool deurloop om ‘n klag by die polisie, provinsiale departement van maatskaplike welsyn, kinderbeskermingsorganisasies, of by die klerk van die Kinderhof te lê.
Die departementele woordvoerder, Steve Mabona, het gereageer op onlangse berigte in Rekord oor boeliegedrag by skole in die Moot.
‘n Ouer van ‘n leerder het reeds in die afgelope twee weke ‘n klag by die polisie ingedien.
Die ma wil anoniem bly oor moontlike viktimisering van haar kind en hul gesin in die gemeenskap.
Haar dogter het in die hospitaal beland met ‘n gebreekte wangbeen nadat sy deur boelies aangeval is.
“My kind se gesig was potblou geslaan en die dokter aan diens by die hospitaal het ons gewaarsku om haar dop te hou aangesien sy dalk van die skade aan haar kop ‘n beroerte kan kry,” vertel die moedelose ma.
Sy probeer al twee jaar om ‘n einde aan hierdie boeliegedrag te maak via verskeie rolspelers.
Die boelies sluit nie net leerders van haar kind se skool in nie, maar ook leerders van ander skole.
Gesprekke met die skoolhoof het haar teleurgestel.
Sy het uiteindelik na die mees onlangse voorval besluit om die polisie in te skakel.
“Die aanbeveling was dat ek ‘n beskermingsbevel kan aanvra. Die polisie het sedert die klag gelê is, terugvoer gegee dat drie van die belhamels aangekeer is.
“Die speurder verantwoordelik vir die ondersoek van die klag het ‘n uitnodiging aan my gerig om haar te kom sien. Ek sal voortgaan met die saak teen die boelies en gaan nie ophou voordat die boeliegedrag stop nie,” vertel die vasberade ma.
Volgens AfriForum se teenboeliespan se woordvoerder, Alana Bailey, kan ouers en hul kinders wel self ‘n hofbevel ingevolge die Wet op die Beskerming teen Teistering teen Boelies kry. Kinders kan van so jong as tien jaar oud vir boeliegedrag aangekla word.
Bron: Rekord