Teenboelieveldtog bemagtig Centurion-leerders
’n Onlangse veldtog het leerders van Centurion Christelike Laerskool gewys hoe vriendelikheid en liefde ’n positiewe verskil by die skool kan maak.
AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 6 Maart met 76 leerders gesels oor afknouery, die gevolge daarvan en effektiewe hanteringsmetodes. Volgens Tania Scheepers, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die noordstreek, is leerders aangemoedig om kalm en selfversekerd teenoor boelies op te tree, emosionele reaksies te vermy en ondersteuning by vriende en volwassenes te soek.
Scheepers, wat die teenboeliepraatjies aanbied, beklemtoon dat die aanmelding van boeliegedrag en die skep van ’n ondersteunende gemeenskap help om afknouery hok te slaan. Sy meen dat vriendelikheid en vergifnis ’n sterk boodskap aan boelies kan stuur en selfs hul houding kan verander.
Leerders wat die sessie bygewoon het, het waardevolle vaardighede aangeleer om boeliegedrag te identifiseer en te stop. Scheepers glo dat hierdie tipe opleiding van kritieke belang is om ’n veilige skool- en gemeenskapsomgewing vir die toekoms te verseker.
– Laai AfriForum se gratis teenboeliegids af:
– Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.