Sukses in die Moot: AfriForum se buurtwag veg teen misdaad
Gedurende Maart het die Groter Moot-buurtwag 89 suksesvolle patrollies voltooi, met ‘n gemiddelde van drie patrollies per dag. In totaal het hulle 103 uur gewerk en 1 230 km afgele in die strate van die Moot-omgewing.
‘n Verdagte wat verbind word aan moord en transitorooftogte, is in Maart in die Moot-omgewing gearresteer.
AfriForum se Groter Moot-buurtwag-inisiatief het grootliks bygedra tot die suksesvolle inhegtenisneming van hierdie individu.
“Suspekte aktiwiteite is deur ons inligtingsnetwerk waargeneem en aangemeld. Die nodige wetstoepassers en sekuriteitmaatskappy het die arrestasie uitgevoer,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord Gemeenskapstrukture.
Die buurtwag maak gebruik van byna 20 kameras wat strategies geplaas is in die gemeenskap. Hierdie kameras dien as ‘n konstante herinnering aan misdadigers dat hulle onder toesig is en funksioneer as die waaksame oë en ore van die inwoners.