Noord-Gauteng Stoei vereer sterre na groot sukses in 2025

Die Noord-Gauteng Stoeivereniging het onlangs hul jaarlikse meriete-toekennings aangebied en ’n indrukwekkende jaar van groei en prestasies afgesluit.
Tuks Stoeiklub is as Klub van die Jaar aangewys en het ook die trofee vir Beste Voorkoms en Spangees ontvang. Die vereniging spog teen die einde van 2025 met 19 geaffilieerde klubs en ’n totaal van 1023 stoeiers.
Drie Afrika-kampioene – Michael Oosthuizen (o.15), Juan Groenewald (o.17) en Chloë Brewis (vroue strandstoei) – is vereer, terwyl 97 Suid-Afrikaanse kampioene ook erkenning gekry het.
Noord-Gauteng het die Noordvaal-toernooi oorheers en tien van die 17 “Champion of Champions”-titels gewen, en die nasionale kampioen-trofee weer ingepalm. ’n Hoogtepunt was die aankondiging dat die Johnny Reitz Big-5 Ope-toernooi in 2026 oor twee dae aangebied sal word met internasionale deelname, wat die status van die geleentheid verder verhoog.
Tuks Stoeiklub is die afgelope naweek by die Noord-Gauteng Stoeivereniging se meriete toekennings-geleentheid aangewys as Klub van die Jaar én die klub met Beste Voorkoms en Spangees. Hier spog stoeiers van die Tuks Stoeiklub met hul trofee as Klub van die Jaar.
Die vereniging het ook ’n skenking van R100 000 aan die Zenzele Hebron Stoeiklub van Mabopane gemaak om hul fasiliteite te verbeter. Individuele toekennings het uitgestaan, met Lenerd van Schalkwyk as algeheel beste vrystylstoeier, Simon Maligana as beste Grieks-Romeinse stoeier, en Tanique Jansen van Rensburg as beste vroue-stoeier.
Hierdie prestasies bevestig Noord-Gauteng Stoei se posisie as die toonaangewende stoeivereniging in Suid-Afrika.





