Garsfontein troef Affies vir SA20 streekstitel
Hoërskool Garsfontein se eerste krieketspan, bekend as die Ysbere, het die afgelope naweek hul oorheersing bevestig deur die Gauteng 1-streekstitel in die SA20 skolereeks te verower. Hulle het Affies (Afrikaanse Hoër Seunskool) met 18 lopies geklop in die streek-eindstryd by Willowmoore Park in Benoni.
Die SA20 skolereeks is die jeugweergawe van die Betway SA20 professionele toernooi, wat tans sy finale stadiums bereik.
Garsfontein het eerste gaan kolf, maar was aanvanklik wankelrig op 51/4 in die negende boulbeurt. Toe het die ervare Echard Struwig na vore getree en sy span uit die moeilikheid gehelp met ’n kragtige 40 lopies van 30 balle. Hy is in die voorlaaste boulbeurt been voor paaltjies betrap, en die Ysbere is uiteindelik almal uitgeboul met die laaste bal van hul beurt, maar hul 140 lopies was verdedigbaar.
Garsfontein se boulers het vroeg druk toegepas, met twee paaltjies in die eerste vier boulbeurte.
Struwig het weer sy stempel afgedruk, hierdie keer as bouler, met indrukwekkende syfers van 4/21. Sy vernuf, veral om van ’n paar sleutelkolwers in die middelorde ontslae te raak, was goud werd vir sy span. Hy is goed bygestaan deur Xander Venter, wat met syfers van 3/13 gespog het.
Affies het nooit werklik momentum opgebou na hul vroeë paaltjies en Struwig se druk op die middelorde nie. Hulle kon slegs 124/9 aanteken teen die einde van hul 20 boulbeurte.
Met hierdie oorwinning het die Garsie Ysbere hul plek verseker in die nasionale eindronde, waar hulle teen sewe ander streekwenn