Bulls karnuffel Sharks, neem voortou op Rainbow Cup SA
Die Bulls het die voortou geneem op die punteleer van die Rainbow Cup SA toernooi, nadat hulle die eerste rondte van dié reeks voltooi het deur die Sharks met ’n skittervertoning te oorrompel op Lofus Versfeld.
Regte egte outydse Noord-Transvaal rugby. Dít is waarskynlik die beste manier om die vertoning van Jake White se Bulls te beskryf waarmee hulle die Sharks Saterdagaand op Loftus Versfeld met 43-9 pakslae gegee het.
Die legendariese ou spanne van Loftus uit die 1970’s en 1980’s is altyd met dié rugby-cliché beskryf as sou hulle wedstryde gewen het deur “sag te maak voor” en dan “hard te slaan agter”. Dít is presies van Duane Vermeulen en sy spanmaats Saterdagaand op Loftus teen die oorblufte span van die Sharks gedoen het.
Daar is vooraf baie gepraat oor die Durbaniete se puik rugby en dat hulle Pretoria toe kom om hul nederlaag in die Curriebeker eindstryd te kom wreek.
Maar White en sy mede bestuurslede se plan teen die Natallers het perfek gewerk en in die laaste kwartier van die wedstryd was die Sharks só “sag” gemaak, dat hulle uit was op hul voete, terwyl hulle nie eintlik in staat was om die Blou Golf te keer wat met drie drieë in tien minute ’n bonuspunt oorwinning verseker het nie.
Hoewel sommige “kenners” die rugbypubliek anders wou laat glo, het die Sharks eintlik van die afskop af swaargekry in die vaste fasette. Hulle was onder druk in die lynstane en stelselmatig is groot name soos Ox Nché en Thomas du Toit ook onder groot druk geplaas in die vaste skrums deur die jong stutte van die Bulls, Gerhard Steenekamp en Morné Smith.
Die besoekers het met skoptaktiek probeer momentum bou, maar dit het ook nie gewerk nie, aangesien hulle by die afbreekpunte nie kon oorheers nie.
Read the full story on: Rekord East.