VTM Nuusbrief November 2016
Toekennings
Die Monument het hierdie maand twee toekennings verower. Eerstens het ons die ‘Jou Keuse’ toekenning ontvang vir die beste museum, soos aangewys deur Beeld-lesers.
Dan het ons ook vir die vierde agtereenvolgende jaar die Rekord koerant se leserstoekenning ontvang, hierdie keer eerste in die kategorie – die beste plek om uitstedige besoekers te wys.
Gebeure
Gholfdag:
Ons jaarlikse gholfdag het hierdie jaar plaasgevind by die Pretoria-Wes Gholfklub. Ons aankondiger vir die aand was Lizz Meiring. Hier staan sy by een van die spelers, Ruan Kaalsen. Die twee wenners op die dag was Conrad Stoltz en Frans Smit.
Toerismedae
Die Monument het in Oktober twee dae aangebied vir toerismemaatskappye waar ons hulle gewys het wat alles op die terrein te sien en te doen is. Tydens die besoek is Susanna afgevuur en ons het ook vir hulle brood gebak in ons oond op die piekniekterrein.
Besoekers
Buitelandse besoekers het weer in Oktober met 33% gestyg vergeleke met die ooreenstemmende typerk laas jaar. Sjinese besoekers het in Oktober 101% gestyg.
Skenking
Orrel
Me Margaretha Jacobs het vir ons ‘n pragtige Edwardiaanse traporrel geskenk vir die kapel op ons terrein. Die orrel het aan haar moeder, mev Ritha Jacobs behoort. Haar ouers was vir jare die predikantspaar in Standerton en Brakpan.
Ander
Die manne wat op die terrein werk, het in Oktober ‘n brandbestrydingskursus bygewoon wat op die terrein aangebied is deur Feletseng Consulting Services. Ons nuut-herstelde waterkarretjie is ook tydens die opleiding gebruik.
Skoolbesoeke
Tot op hede, het daar reeds 12, 631 skoolkinders die Monument hierdie jaar besoek. Die Laerskool Jopie Fourie, wat oorkant die Monument onder Vryheidspark geleë is, besoek ons elke jaar. Dit is juis hulle wat hier teen die trappe opstroom.
Kruger- Beeldegroep
Die Erfenisstigting se strukturele bewaringspesialis was op Donderdag, 3 November, reeds baie vroeg op Kerkplein om te kyk of daar enige herstelwerk aan die Kruger-beeldegroep gedoen sal moet word na die chaos van 2 November.
Hy het bevestig dat daar GEEN skade aan die brons beelde of die granietvoetstuk aangerig is nie.
Die heining romdom die beeldegroep is wel oopgebreek en die plek lyk soos ‘n oorlogsone, maar daar word verneem dat die Burgemeester self onderneem het om te sorg dat dit opgeruim word.
Die beeld sal nie van sy regmatige plek verwyder word nie en ons sal ons nie deur enige groepe en vandalistiese optredes laat afdreig nie. Die Erfenisstigting het ook verneem dat daar geen planne vanuit die Tshwane owerhede se kant is om enige openare beelde te verwyder nie.
Indien daar ooit rede tot werklike kommer is, sal die korrekte prosedures gevolg word om die kunswerke te beveilig.
Gebeure Op Terrein
Ons herinner u daaraan dat die Park Acoustics opvoering op 26 November op die piekniekterrein plaasvind en dat dit nie toeganklik sal wees vir mense wat wil braai nie.
Gedenkdiens Op 16 Desember
Die volledige program vir die gedenkdiens op 16 Desember is reeds op ons Facebook-blad onder _Events_te sien: www.facebook.com/Voortrekkermon/. Dit sal ook tydens die eerste week van Desember onder Mediaverklarings op ons webtuiste wees.