VTM Nuusbrief 22 Oktober 2015
Geagte Vriende
Graag wil ons u in kennis stel dat die kanon Susanna in November en Desember op die eerste Saterdag van die maand geskiet sal word om presies 12:00 vm by Fort Schanskop. Dit sal nie op die eerste Vrydag wees nie. Dit sal u dan in staat stel om die kinders te bring en sommer ook die Kontreimark te besoek.
Hierdie pragtige beeldjie is van vandag of beskikbaar op ‘n bedekte bod.
LETABA-OLIFANT: PHIL MINNAAR (1946 – 2014)
Phil Minnaar was een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande en aktiewe beeldhouers. Hy het roem verwerf vir sy monumentale beeldhouwerke van staats- en krygsmanne, politieke en ander openbare figure, asook ‘n verskeidenheid dierefigure wat regoor die land te sien is.
Minnaar ontvang in 1993 opdrag van die Parkeraad vir die boetsering van ‘n lewensgrootte uitgegroeide olifantbul vir die Letaba Ruskamp in die Kruger Wildtuin. Om die werk van drie en ‘n half meter hoog te voltooi, het Minnaar 3 600 kg klei gebruik. Saam met die metaalversterkings was die totale gewig van die voltooide beeld dié van ‘n lewende olifant van gelyke grootte.
Hierdie unieke 8 kg brons replika (23 X 32 cm) is gegiet deur die kunsbeeldgieter Daniel Nell vanaf die oorspronklike miniatuurmaket wat Minnaar vir die Letaba-olifant gemaak het. Dit is die eerste gietsel van hierdie beeld wat verkoop word asook die eerste post partem gietsel van Minnaar se werke. Dit is op kiaathout gemonteer en is nommer een van twaalf. Die Voortrekkermonument het die keuse om die ander elf te laat giet of nie.
Die vervaldatum vir hierdie bod is einde November en die wenner sal direk deur die Monument gekontak word.
Die program vir die diens op 16 Desember, sal gedurende die eerste week van Desember op ons Facebook bladsy: https://www.facebook.com/Voortrekkermonument-natuurreservaatnature-reserve-46231357102/ beskikbaar wees, asook op ons webtuiste onder mediaverklarings.
Groete