VTM Nuusbrief 18 September 2015
Geagte Vriende
Ons herinner u graag aan ons Erfenisfees op 24 September. Daar is 70 stalletjies met handgemaakte items en heerlike boerekos. Daar sal demonstrasies wees van broodbak ens. en voorlaaier skiet. Daar is ook ‘n potjiekoskompetisie met vleis wat geborg word deur Skaap SA. Indien u belangstel, kontak lizette@vtm.org.za vir meer inligting. Musiek sal onder andere verskaf word deur die Klipwerf Orkes. Koste is R30 per voertuig.
Dieselfde dag is ook ons laaste antiek- en versamelaarsmark van die jaar op die amfidak. Toegang is ook R30 per voertuig.
Omdat die mark geag word as een van die beste in die land, is stalletjies gesog en het ons tans ‘n waglys van bykans 4 jaar. ‘n Duidelike bewys dat daar iets vir elke besoeker is.
Ons dink daaraan om die betalingsmetode vir al ons jaarlikse Vriende volgende jaar te verander. Die jaargeld sal heel waarskynlik opgaan na R360 per jaar. Ipv dat u die hele bedrag eenmalig betaal, sal dit nie makliker wees om by u bank ‘n aftrekorder in te stel vir R30 per maand nie? Ons hoor graag wat u hiervan dink. Hierdie metode sal admin aansienlik vergemaklik. Ons werk ook aan ‘n toep (app) waar u die ingangskaartjie tot die terrein op u slimfoon sal ontvang sodra u betaal het.
Ons doen weereens ‘n beroep op al ons hardlopers en fietsryers om nie alleen op die paaie by Fort Schanskop te hardloop of ry nie. Ons was die afgelope jare baie gelukkig om die kriminaliteit oral om ons vry te spring, maar soos u weet was daar ‘n paar insidente. Ons werk aan verskeie maniere om dit aan te spreek, maar versoek dat u asb versigtig moet wees.
Groete







