VTM April Nuusbrief 2016
April Nuusbrief 2016
Geagte Vriende
Soos u weet, bestuur die VTM ook die Bloedrivier Erfenisterrein. Ons het so pas die blye tyding ontvang dat die Departement Kuns & Kultuur ‘n bedrag geld aan ons oorbetaal het vir die opknapping van sekuriteit by Bloedrivier wat toenemend ‘n probleem word.
Indien u dit nog nie raakgesien het nie, die Monument is die hele April blou verlig in die aand ter ondersteuning van outisme. Hierdie foto is op ons Facebook bladsy geplaas en meer as 100 000 mense het daarna gekyk, ‘n rekord vir ons blad.
Ons herinner u ook daaraan dat die Park Acoustics konsert op 24 April by Fort Schanskop plaasvind. Wanneer sulke groot konserte daar plaasvind, kan u ongelukkig nie die Fort besoek nie. Om op hoogte te bly van sulke gebeure, sluit gerus aan by ons Facebook bladsy: https://www.facebook.com/Voortrekkermonument-natuurreservaatnature-reserve-46231357102/
Op 2 Mei vind die jaarlikse Militêre Fees op die piekniekterrein plaas. Die hele terrrein word gebruik en mense kan dus nie op die dag daar kom braai nie. Tydens die Fees, sal daar ‘n verbyvlug wees van ‘n Bosbok en drie Alouette helikopters. Baie dankie aan Group73 wat dit vir ons moontlik gemaak het. Toegang tot die Fees is R30 per voertuig en dit is van 09:00 tot 16:00.
Laastens herinner ons net die Vriende van die monument (m.a.w. persone wat ‘n jaalikse toegangskaartjie het), dat u lidmaatskap reeds op 28 Februarie verval het, en dat dit asb. nou hernu moet word. Baie dankie aan almal wat reeds die R250 betaal het. Indien u nog nie betaal het nie, sal ons dit waardeer indien ons dit so gou moontlik kan afhandel. Kontak my gerus indien u nie seker is of u reeds betaal het nie.






