VirSeker Skenk R 9.3 Miljoen aan Akademia
VirSeker skenk R 9.3 miljoen aan Akademia
Persvrystelling: Virseker
Maart 2016
Virseker het op 26 Februarie ‘n tjek ter waarde van meer as R9.3 miljoen aan die privaat Afrikaanse universiteit, Akademia, oorhandig. Dit het plaasgevind tydens die universiteit se bekendstelling van hul nuwe kampus in Centurion.
Akademia het pas sy vyfde akademiese jaar betree, met meer as 400 studente, 7 studiesentrums landswyd, 2 BCom-graadprogramme (Ondernemingsbestuur en Bestuursrekeningkunde) en verskeie diploma- en hoërsertifikaatprogramme wat hier aangebied word.
Klasse vir hierdie kursusse word in ‘n afstandsonderrig-formaat, met behulp van topgehalte oudiovisuele- en telekommunikasie tegnologie, aangebied. Die universiteit beoog om studentegetalle in 2017 van 400 tot 700 te groei, studiesentrums te vermeerder van 7 tot 15 en kursusse in onder andere BCom Ekonomie en Regte, BCom Finansiële Beplanning, BRek en Verpleegkunde aan te bied.
Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker, sê: “Dié oorhandiging lê weereens klem op Virseker se volgehoue toewyding tot die bevordering van eersteklas Afrikaanse onderrig. Danksy die lojale ondersteuning van elke Virseker-kliënt kan ons met trots ons steun aan projekte soos dié, sowel as ander soos die Rapport Onderwysfonds en die ontwikkeling van Afrikaanse leertoepassings, verleen.”