Die Moot projek maak spruit skoon
Die Moot spruit in 18e Laan is ’n bron van kommer vir inwoners, en Die Moot Projek het die naweek ingespring en daar gaan skoonmaak.
Die Moot Projekspan is hierdie jaar weer hard aan die werk om hul buurt mooi skoon te hou en moedig meer inwoners aan om saam met hulle te werk.
Die projek wil inwoners weer trots maak om in hul buurt te woon deur om hulle deel te maak van die projek.
Hulle hoofdoelwit is dat elke inwoner voor sy eie huis skoonmaak en dan nog verder inspring om die stad te help om hul omgewing netjies te maak.
Die Moot spruit in 18e Laan is ’n bron van kommer vir inwoners, en Die Moot Projek het die naweek ingespring en daar gaan skoonmaak.
Hulle het hul doelwitte bereik wat die volgende insluit:
– Rommel, ou komberse, matrasse, bottels en omtrent enige gemors denkbaar, is verwyder.
– Onderste gedeeltes van bome se stamme is oopgesny (plakkers gebruik dig bebosde areas om hulle tuis te maak).
– Brugrelings by twee brûe op 18de Laan is oorgeverf.
– Onwettige bourommel is grootliks verwyder.
Die span gaan volgende week die los takke verwyder.
Die Moot spruit is van kardinale belang vir inwoners van die Moot en speel ’n belangrike rol in die biodiversiteit van die area.
Die kwaliteit van die water in die spruit affekteer die waterkwaliteit vir alle Moot-inwoners en dus moedig Die Moot Projek almal aan om die spruit te bewaar.
Verlede jaar is daar bevind dat die rou riool se oorsprong direk van die onwettige plakkers in Brooklyn kom wat die storm wate rdreine gebruik.
Daar is tans ’n hofbevel wat deur die metro se regsafdeling bekom is om hulle te verwyder.
AfriForum is ook lankal betrokke met die bewaring van die spruit en het al vele pogings aangewend om die spruit skoon te hou.
Hulle het onlangs watermonsters van die spruit geneem en vir ontleding na ’n laboratorium gestuur om die water se veiligheid te bepaal.
Die Moot Projek het groot planne vir 2023 en beoog om meer en meer lede van die gemeenskap betrokke te kry om hul span so effektief as moontlik te maak om ’n ware verskil te maak.
Bron: Pretoria Rekord





