VoortrekkerMonument kry kuier gaste Nasate van Paul Kruger
Alida Erasmus was bly om te sien ‘n stukkie van haar familie geskiedenis word geëer by die monument.
Alida Erasmus (71), ’n direkte familielid van Paul Kruger en ’n geskiedeniskenner het nooit geweet dat haar familie op die friespanele by die Voortrekkermonument (VTM) uitgebeeld word nie, tot 14 April toe sy daar ’n besoek kom aflê het nie.
Erasmus het by die VTM kom kuier en tydens ’n toer besef dat Kruger, haar ouma se broer, as 11-jarige seun aan die Slag van Vegkop deelgeneem het en vandag nog daar op die friespaneel sy plek trots volstaan.
Erasmus, wat self ’n groot geskiedeniskenner is, sê sy het besluit om haar dogter en twee Nieu-Seelandse kleinkinders na die monument toe te bring om bietjie meer te leer oor waar hulle vandaan kom en die geskiedenis van hul familie te leer.
Maar wat sy nie verwag het nie, was om haar ouma se broer op ’n friespaneel te “ontmoet”.
“My ouma Gezina was Paul Kruger se suster en ek ken die geskiedenis van hul familie goed, maar toe ek vandag hier by die VTM kom, leer ek iets wat ek nog nooit geweet het nie – ons familie word hier op die friespanele verteenwoordig,” het sy gesê.
Die Slag van Vegkop (1836) het plaasgevind tussen die Wilge- en die Renosterrivier, waar die Potgietertrek in Oktober 1836 deur nagenoeg 6 000 Ndebele-krygers van opperhoof Mzwilikazi aangeval is.
Die later president Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek het as 11-jarige seun aan die Slag van Vegkop deelgeneem en word in die middel van die paneel uitgebeeld as die seun wat ’n voorlaaier met kruit uit ’n kruithoring vul.
Toe sy leer oor Louis Jacobs, die seuntjie met kruithoring op die fries, was sy baie opgewonde dat haar familie se nalatenskap ook hier by die VTM voortleef.
“As jong student het ek geskiedenis studeer tot in my derde jaar – geskiedenis is na my mening ongelooflik belangrik vir die wêreld en daarom is dit so verfrissend om by ’n plek soos die monument te kom kuier en te sien hoe die Afrikaner-geskiedenis steeds geëer word.”
Erasmus se kleinkinders, Joel en Zoey Bott, het self die ervaring baie geniet en hoewel hulle nie die geskiedenis ken nie, was hulle vol vrae wat hul ouma moes beantwoord.
Om die geskiedenis te bewaar en te laat voortleef, is iets wat Erasmus baie na aan die hart lê en sy glo dat almal ’n verantwoordelikheid het om hul eie stories te leer, te vertel en te bewaar.
Bron: Rekord