Sarina Johnson
Sarina Johnson is ‘n gewilde radio-omroeper en joernalis wat haar lewe lank al in Pretoria woon en werk.
Sy het bekendheid verwerf as aanbieder op die Universiteit van Pretoria se studentradiostasie TUKS fm en werk tans as programregisseur & aanbieder by die gemeenskapsstasie Radio Pretoria.
Sarina het ‘n BA graad in joernalistiek en is dol oor musiek, trots Afrikaans en ‘n geesdriftige Twitter gebruiker.
Hoe lank woon jy al in Pretoria?
My hele lewe lank! Is in Pretoria gebore, het hier studeer en is van plan om nog lank hier te bly.
Waar het jy skoolgegaan en hoekom het jy juis die skool gekies?
Die Hoerskool Menlopark – dis een van die topskole in Suid-Afrika op alle vlakke – sport, kultuur en akademie en hulle het die beste skoolgees van al die skole gehad. En ek wou vreeslik graag in die beste gemengde koor in die land sing (ja, ek is so bietjie van ‘n nerd…). Verder het ek gehou van hul waardestelsel wat hul by alle leerders probeer inburger: ywer, respek, integriteit en lojaliteit.
Vertel ons meer van jou betrokkenheid by Tuks FM en Radio Pretoria?
Ek was van 2010 tot 2012 by Tuks FM betrokke as omroeper en het toe die geleentheid gekry om by Radio Pretoria as aanbieder en programregisseur betrokke te raak. Ek is tans mede-aanbieder van ons oggendaktualitetitsprogram en in die middae is ek aan die stuur van veteraan-omroeper Heinrich Marnitz se program.
Wat is jou gunsteling winkelkompleks?
Woodlands Boulevard. (Kliek hier vir meer inligting oor Woodlands Boulevard op ShowMe Pretoria se Shopping blad.)
Wat mis jy die meeste van jou studentedae by die Universiteit van Pretoria?
Om te stap na waarookal ‘n mens wil wees, om sommer so tussen twee klasse middagete by Aandklas te gaan kry en natuurlik al die rondlê en die Internet misbruik by Tuks FM se kantore.
Gunsteling koffiewinkel in Pretoria?
Aroma Coffee in die Florents Heights Shopping Centre, 265 Lynnwoodweg, Brooklyn, Pretoria.
Wat is volgens jou die lekkerste kuierplek?
Aandklas in Hatfield Square, op die hoek van Hilda & Prospect Straat, Hatfield, Pretoria.
Gunsteling piekniekplek?
Belsis die Magnoliadal park in Baily’s Muckelneuk.
Wat geniet jy die meeste van Pretoria?
Die mense, die studente en die feit dat alles goedkoper as in Johannesburg is.
Gunsteling Pretoria museum, historiese of kulturele bestemming?
Ek gaan loer gereeld na die kunsuitstallings by +27 Design Cafe. (Kliek hier vir meer inligting oor +27 Design Cafe.)
Watter 3 woorde sou jy gebruik om Pretoria te beskryf?
Besig, vriendelik, beeldskoon.
Volg Sarina Johnson op Twitter ( @Sarinatjie ), luister na haar op Radio Pretoria se oggendaktualitetitsprogram ‘Klankkoerant’ of skakel in vir Heirich Marnitz se program ‘Volksmikrofoon’ bedags 13:00 – 16:00. Vir meer inligting oor Radio Pretoria, besoek radiopretoria.co.za.