Pretoria-sangers gekies vir ATKV-mentorskapprogram
Die ATKV-mentorskapprogram bied ‘n unieke geleentheid vir talentvolle sangers om hul loopbane te begin. Twee Pretoria-sangers het hul kans aangeneem en is gekies om na die volgende fase in die kompetisie deur te dring, wat hulle die voorreg bied om in ‘n ATKV-Crescendo-produksie op te tree.
Na ‘n intensiewe proses van keurings en evaluasies is 23 finaliste aangewys uit vanjaar se inskrywings. Die program gaan plaasvind van 30 Maart tot 6 April in die Paarl.
Twee van hierdie finaliste kom uit Centurion, Pretoria. Onder hulle is Vincent van As Jr., beter bekend onder sy verhoognaam Vanas Rain (39), ‘n kreatiewe mens en winkelsentrumbestuurder, sowel as Lizl Simoes (23), ‘n klavieronderwyseres wat tans haar meestriese graad in musiek nastreef.
Deelnemers kon hul oorspronklike liedjies digitaal inskryf of persoonlik oudisies by ATKV-Crescendo se talentsoekers in streekgebiede soos Tuinroete, Klein-Karoo, Weskus, Atlantis en Worcester doen. Vanjaar is oudisies ook vir die eerste keer in Namibië gehou, wat twee finaliste opgelewer het.
Lizl Simoes is duidelik opgewonde oor haar keuse:
“Ek is vreeslik opgewonde om ‘n finalis te wees. Dit is ‘n wonderlike geleentheid en ‘n groot voorreg om deel te wees van hierdie program!”
Haar geloof in God dien as haar grootste inspirasie. “Ek sien Sy skeppingskrag elke dag wanneer ek by die huis uitgaan, en ek kan nie anders as om Sy lof te besing nie,” voeg sy by.
Sy beskryf haarself as hardwerkend, toegewyd en hoopvol, en bewonder Bernice West omdat sy haar hart en geloof in musiek uitleef. “Sy versprei vreugde en hoop regoor die land. Wat ’n voorbeeld!” sê sy.
Die oomblik toe Vincent van As die e-pos ontvang het, was vir hom onvergeetlik:
“Is dit rêrig? Ek moes die e-pos verskeie kere lees voordat ek kon glo. Toe die realiteit my inhaal, het ek in trane uitgebars, en daardie emosie raak my steeds diep.”
Hy is groot aanhanger van Queen se musiek – met ‘n tikkie Bon Jovi – en beskou beide as grensverskuiwende en vol emosie. Op die outismespektrum ervaar hy musiek op ‘n buitengewone, diepgaande wyse. “Of ek nou sing, skryf of luister, my stem is my hoofinstrument,” verklaar hy.
Radiopromotor en vervaardiger Gershwin Koen, wat saam met vorige Crescendo-finaliste Olga Leonard en Deon Meiring van Glaskas die digitale inskrywings beoordeel het, beklemtoon dat die keuringsproses allesbehalwe maklik was. “Daar is soveel talent – inspirerende liedjieskrywers, pragtige melodieë en ongelooflike stemme,” sê hy.
Die program bring ‘n diverse groep kunstenaars bymekaar – van ‘n menslikehulpbronbeampte wat jare lank aan verhoogvrees gely het, tot ‘n musiekprodusent uit Walvisbaai en ‘n musikale hustler uit Kroonstad wat haar dae tussen sang, musiekteater en ‘n unieke varkboerderij verdeel.
Mercia Eksteen, woordvoerder van die ATKV, verduidelik dat die mentorskapprogram bestaan uit ses dae intensiewe opleiding deur enkele van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf. “Deelnemers ontvang nie net musikale mentorskap in melodie- en liriekontwikkeling nie, maar word ook toegerus met kennis oor handelsmerkontwikkeling, bemarking en entrepreneurskap,” sê sy.
Projekorganiseerder Morné van Staden beklemtoon dat ATKV-Crescendo nie ‘n tradisionele talentkompetisie is nie. “Ons glo dat talent nie bedoel is om teen mekaar te kompeteer nie, maar eerder om mekaar op te bou en te versterk. Die program is ontwerp om finaliste toe te rus met die nodige kennis, vakmanskap, ingesteldheid en integriteit sodat hulle hul musiekloopbane suksesvol kan afskop.”
Gedurende die week word deelnemers uitgedaag met kreatiewe opdragte – soos om binne ‘n uur hul eie liedjies te skryf. Die week sluit af met ‘n konsertafsluiting waar finaliste hul oorspronklike liedjies saam met die ATKV-Crescendo-orkes uitvoer.
Uit hierdie 23 deelnemers sal uiteindelik ‘n paar finaliste gekies word wat gedurende die res van 2025 by verdere mentorskapprogramme sal aanneem en die geleentheid kry om in ATKV-Crescendo-produksies op te tree. Hierdie finaliste kry ook die kans om hul musiek verder uit te brei deur liedjies, albums en musiekvideo’s op te neem.