Pieter Marcato
Pieter Marcato het in Pretoria grootgeword, waar hy steeds vandag nog woon. Na skool het hy deur Damelin klankingenieurswese studeer en in hierdie tyd het sy pad met die van Ben van Zyl gekruis. Kort daarna het hulle besluit om saam die groep, Marcato, te begin wat vandag nog bestaan.
Oor die jare was hy deel van verskeie groot musiekproduksies, waaronder die Simon and Garfunkel Tribute Show, Bob Dylan Tribute Show en die ACDC Tribute Show, wat almal verskeie jare opgevoer is. Hy is ook die stigterslid van Legato Records, wat ’n hele aantal musikante huisves. Gedurende 2017 het dié veelsydige ster ook saam met Altus Theart (Getroud Met Rugby) en Jerry Spangenberg die alternatiewe popgroep, EON, begin. Dié groep het steeds ’n baie groot aanhang en die trio was tot onlangs nog ’n bekende gesig by die meeste groot musiekfeeste in die land.
Pieter is iemand wat daarvan hou om vriende te maak en wat graag saam met sy geliefdes kuier as hy ’n kans kry. Hy put baie van sy inspirasie uit sy eie ervarings en emosies wanneer hy musiek skep en dit is ook graag wat hy aan gehore wil oordra.
As hy ’n ander loopbaan moes kies, sou hy graag ’nprokureur wou wees, omdat dit iets is waarin hy al baie lank belangstel. Ervaring het hom ook geleer dat sukses nie maklik is nie en dat die verhoudings wat jy in die musiekbedryf bou van onskatbare waarde is.
Hy het voorwaar baie ysters in die vuur, maar dit is juis as gevolg vanharde werk, passie en deursettingsvermoë wat hy dit kon regkry om vir homself ’n loopbaan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf oop te kerf. Hy het nog baie planne en drome vir die toekoms en kan nie wag om dit met aanhangers te deel nie.
Ons het by Pieter gaan inloer om hom ‘n bietjie beter te leer ken en om meer uit te vind oor sy solo musiek loopbaan en, gesin en nuutste enkelsnit, Swipe Regs.
Waarom het jy besluit om solo te gaan?
Ek wou al jare terug solo gegaan het maar was in ‘n gemaklike plek in my bands, MARCATO en EON. Maar, in 2019 het ek my voet neergesit en my solo loopbaan aangepak.
Sing jy steeds saam Eon en Marcato?
Ja ek doen. MARCATO gaan in 2021 weer iets saam doen en EON se optredes het mooi geloop al was dit maar moeilik om my, Altus en Jerry se skedules oop te hê vir vertonings, maar ons het dit tot onlangs nog heel goed reggekry.
Jou nuwe enkelsnit Swipe Regs is geïnspireer deur vriende van jou wat op Tinder ontmoet het. Sou jy Tinder aanbeveel vir enkellopendes?
Verseker! As ek enkellopend was en daar was Tinder, het ek dit verseker gebruik! Om ware liefde aanlyn te vind, is deesdae glad nie ’n vreemde verskynsel nie en talle paartjies het al suksesvolle verhoudings met die druk van ’n knoppie gebou.
Jy en Karin het n pragtige baba dogtertjie. Hoe handhaaf jy die vermaakbedryf en gesinstyd?
Amila is my lewe! As ek nie op die pad is met vertonings nie, is ek by die huis en spandeer tyd saam met Karin en Amila. Dit raak soms moeilik as ek vir ‘n week nie by die huis is nie, want mens mis baie, veral in die eerste jaar van ‘n kind se lewe.
Wat weet mense nie van jou nie?
Dat ek ‘n bobaas skaakspeler is! Ek het nog nie ‘n spel verloor in 10 jaar nie! Ek was op skool ook A-span en 1ste bord Kaptein van die skaakspan.
Watter instrumente kan jy bespeel?
Kitaar / Klavier / Baskitaar / Ukulele / Mandolien / Banjo
Wat was die beste “live show” wat jy al gaan kyk het?
Bruce Springsteen! Vir ‘n ou wat so oud is soos hy het hy ‘n fantastiese vertoning gegee. Ek sal nie so kan rondhardloop soos hy vir amper 3 ure nie en ek is nie eers helfte van sy ouderdom nie!
Wat is jou “guilty pleasure” TV-program om te kyk?
Arrested Development is die beste show ooit, ek het seker die reeks al 10 keer oor en oor gekyk!
Som jouself op in 3 woorde?
Snaaks / passievol / hardwerkend
Jy wen ‘n Grammy. Wie bedank jy eerste?
My vrou wat altyd daar is vir my en positief is.