Passie dryf Hendro du Plessis se musiek
“Ek geniet dit om nuwe mense te kan ontmoet en net die kunswerk wat musiek is verder te kan vergroot en te skilder met ’n bietjie van my kreatiwiteit.”
Hendro ‘Hennas’ du Plessis se passie vir musiek volg hom al sy hele lewe lank en hy wil graag ’n verskil maak met sy unieke klank.
“Ek het van kleins af al ’n liefde vir musiek gehad, maar waar ek besef het dat ek musiek wil maak is toe ek die eerste keer vir Jo Black sien sing het,” het hy aan Rekord vertel.
Een van Du Plessis se hoogtepunte van sy musiekloopbaan sover was toe hy by sy eerste musiekfees opgetree het in Oktober by die Bos Boogie Festival.
Hy het ook die wonderlike geleentheid gehad om saam met Karen Zoid op GrootFM te sing.
Du Plessis wil hê sy musiek moet vir mense vreugde bring.
“Daar is verskillende boodskappe in elke liedjie, maar ek wil maar net hê as mense my musiek luister dat hulle moet weet dat hulle nie alleen met goed hoef te deal nie en dat jy as persoon enigiets kan doen as jy jou alles daarop sit.
“Ek wil graag in elke persoon wat my musiek luister kan inspireer om ook hulle drome te volg en te kan doen wat hul voor lief is.”
Du Plessis sê om musiek te maak gee hom die geleentheid om nuwe mense te ontmoet.
“Ek geniet dit om nuwe mense te kan ontmoet en net die kunswerk wat musiek is verder te kan vergroot en te skilder met ’n bietjie van my kreatiwiteit.”
Die sanger sê sy ma, pa en sussie is van die mense wat hom die meeste ondersteun en inspireer.
Sy advies vir jong musikante is om nie te veel te fokus op wat mense van hulle dink nie.
“Moenie bekommer oor wat die wêreld dink nie, want jy is wie jy is en jy doen wat jou gelukkig maak.”