Ouers eis antwoorde oor plasings-chaos vir 2026
Ouers in Pretoria en Centurion kla oor chaos in Gauteng se skoolplasings vir 2026.

Carien Bloem – hoof van Onderwysprojekte by AfriForum
Ouers in Pretoria en Centurion is diep ontsteld oor die Gautengse skoolplasingsproses vir 2026, wat volgens hulle gekenmerk word deur chaos en wanbestuur. Sedert die plasings begin het, kla gesinne oor vertraagde bevestigings, swak kommunikasie en dat leerders by skole geplaas word wat nie hul voorkeur was nie. Hierdie onsekerheid het tot groot spanning gelei, aangesien ouers voel dat hul kinders se onderwys in die gedrang is.
AfriForum het intussen ingegryp en ’n prokureursbrief aan Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, gestuur. Die organisasie eis antwoorde oor die vertragings en die feit dat sommige leerders selfs by skole geplaas word wat nie op die registrasiestelsel verskyn nie. Hulle meen die departement skuld ouers en skole duidelikheid oor hoe die proses bestuur word.
Die Departement van Onderwys hou egter vol dat alle voltooide aansoeke ’n aanbod sal kry en dat SMS-kennisgewings finaal is. Volgens die departement word plasings volgens vasgestelde kriteria gedoen, insluitend huisadres, broer of suster by die skool, werksadres en afstand vanaf die skool. Waar skole reeds vol is, word leerders na die naaste beskikbare skool verwys.
Vir ouers wat ongelukkig is met die plasings, bestaan daar ’n formele beswaar- en appèlproses. Besware kan binne sewe dae ingedien word en uitslae word binne 14 dae gekommunikeer. Indien ouers steeds ontevrede is, kan ’n appèl binne sewe dae ingedien word, wat binne 14 tot 21 dae afgehandel word. Die departement waarsku egter dat geen appèlle toegelaat word indien die leerder by een van die oorspronklike aansoekskole geplaas is nie.
Verder het die departement ouers gewaarsku om versigtig te wees vir individue wat teen betaling hulp aanbied met plasings, aangesien amptelike kommunikasie slegs via SMS of die Aanlyn Toelatingstelsel geskied. AfriForum het ouers en skole uitgenooi om probleme direk aan hulle te rapporteer.





