“Trots Afrikaans” Jeanette Pretorius se Nuwe Snit
Jeanette Pretorius gesels oor haar jongste enkelsnit “Trots Afrikaans”
musiekliefhebbers sal Jeanette Pretorius se stroopsoetstem herken van die groep Heuning, of ouers sal selfs haar ken as die werkerby agter die kindertreffer “Bee Bee die By”, maar hierdie jaar is sy terug met haar vrolike feestelike enkelsnit “Trots Afrikaans”.
“Trots Afrikaans” gaan oor die positiewe dinge in die lewe en die inspanning en dryfkrag wat daarin gaan om die beste van ’n situasie te maak.
“Trots Afrikaans” se lirieke het eendag by Jeanette se deur kom klop, Ek het besef dat ek met die liedjie Suid-Afrikaners kan moed gee en laat besef dat ons sterker is as wat ons dink ons is.”
“Die woorde het maklik gekom en ek het besef dat ek met die liedjie Suid-Afrikaners kan moed gee en laat besef dat ons sterker is as wat ons dink ons is. Ons kan ook met geloof alles in die lewe – van beurtkrag tot misdaad – oorwin.”
“Trots Afrikaans” is ook ’n liedjie wat ons inspireer om trots te wees op ons taal, “want dit is die bloed wat deur ons are vloei”.
Met Bee Bee, streef jy daarna om kinders op ’n lekker manier te leer deur musiek te gebruik. Wat wil jy die “groot kinders” met jou nuwe musiek leer?
Ek wil graag vir mense met dié liedjie moed gee om te weet dat ons sterk genoeg is om enigiets te oorkom in die lewe veral as ons “loop in geloof” soos wat ek noem in die lirieke.
Wat hoop jy sal jonger generasies van Afrikaners uit jou musiek leer?
Ek sal vir hulle wil leer dat dit goed is om altyd positief te wees ten spyte van ons omstandighede. As ek aan ’n goeie voorbeeld kan dink, is dit ons Suid-Afrikaners se sin vir humor wat ons altyd laat glimlag, maak nie saak in watter situasies ons ons bevind nie.
Jy is nie ’n amateur wanneer dit kom by musiek nie, met jou baie idees van country, jodel tot opvoedkundige musiek vir kinders. Wat is jou volgende eksperiment?
Ek is op ’n plek in my loopbaan waar ek dit werklik net geniet om my passie te kan uitleef al is dit in vele genres van musiek. Op die oomblik fokus ek baie op die opvoedkundige kinderprojek “Bee-Bee die By” asook my solo loopbaan. Ek is tans besig om aan nog ’n opvoedkundige kinderalbum te skryf. Dis ook vir my lekker om steeds op die verhoog ook te wees en saam met ander musikante musiek te kan maak en te skryf.
Selfs al het die liedjie ’n opgewekte toon, voel dit persoonlik. Hoekom is juis nou die perfekte tyd vir “Trots Afrikaans?”
Dit is verseker. Ek dink mense gaan deur ’n rowwe tyd, veral na Covid-19 en nou met al die uitdagings van beurtkrag, ens.
Daar is so baie mense wat tans baie swaar kry. Ek het gevoel dat mense daaraan herinner moet word dat dit nie is hoe hard jy soms val nie, maar hoe jy weer opstaan en dat mense sterker is as wat hulle dink hulle is.
Bron van Artikel: Pretoria Rekord